ʼn 30-jarige man is Maandag in hegtenis geneem nadat hy met onverwerkte platinum met ʼn geskatte waarde van R214 000 in die Noord-Kaap betrap is.
Lt. Olebogeng Tawana, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die verdagte het in ʼn silwer Colt-bakkie vanaf Cradock in die rigting van Noupoort op die N10 gery.
“Die Noupoort-polisie het die verdagte se bakkie tydens ʼn padblokkade afgetrek en deursoek,” het Tawana gesê. “Ongeveer 25 kg onverwerkte platinum was onder die sitplek versteek.”
Die man is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van onverwerkte platinum en moet binnekort in die Noupoort-landdroshof verskyn.