Man met ‘selfmoordneigings’ val polisievrou aan, word geskiet

Argieffoto

ʼn Polisievrou van Balfour in Mpumalanga het ʼn man in hegtenis geneem wat haar na bewering aangeval het nadat hy glo sy eie lewe wou neem.

Maroela Media het verneem die man het by die Balfour-polisiestasie se gemeenskapsdienssentrum ingestap waar twee polisievroue aan diens was. Hy het die beampte met ʼn harde voorwerp aangerand en probeer om haar vuurwapen af te neem. Die vrou het teruggeveg en die man oorweldig, waarna sy ʼn skoot afgevuur en hom in hegtenis geneem het.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het Sondag die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Die beampte was aan diens in die gemeenskapsdienssentrum toe sy ʼn man opgemerk het wat by ʼn deur ingekom het wat vir personeel se gebruik bedoel is,” het Hlathi gesê.

“Die man het van die personeel wat aan diens was ook aangeval. Die brawe konstabel het in ʼn stoeiery met die man betrokke geraak en hy het probeer om haar te ontwapen. In die gestoeiery is ʼn skoot afgevuur en die man is gewond.”

Volgens Hlathi hou die voorval glo verband met ʼn ander voorval waarop polisiebeamptes van Balfour vroeër gereageer het.

“Die man het na bewering gedreig om sy eie lewe te neem deur voor ʼn trein in te spring. Die man het glo vir die trein gewag, maar dit het nie opgedaag nie. Hy is daarna na die polisiestasie toe.”

Die man is deur sy ma geïdentifiseer en na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

Die polisie ondersoek die voorval en die motief daarvoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dawie ·

Hier het ons nog n persoon wat wens die treine was nog steeds op tyd soos vroeer dae.

Gerrit ·

Ek is n diere liefhebber maar as ek in die polisie beampte se skoene was het ek die ou uitgesit as hy my in my werksplek met n harde voorwerp aangerand het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.