Man mik glo vir seekoei, wond vrou

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

’n 77-jarige man is Dinsdag in hegtenis geneem vir poging tot moord nadat hy glo ’n vrou langs die Mogolrivier in Limpopo gewond het.

Die man beweer hy het vir ’n seekoei in die water gemik en toe die vrou raakgeskiet.

Volgens lt.kol. Mamphaswa Seabi, polisiewoordvoerder, het ’n paartjie by die Mogolrivier, naby ʼn kleinhoewe, visgevang. Die verdagte het na bewering omstreeks 14:00 skote in die rigting van die paartjie gevuur.

“’n 38-jarige vrou is gewond. Haar vriend het weggekom en die polisie en nooddienste ontbied,” sê Seabi.

Die vrou is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.

“Die polisie het die man summier in hegtenis geneem. Hulle het ook beslag gelê op twee gewere, een rewolwer, een pistool en twee windbukse.”

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiehoof in Limpopo, het ʼn beroep op mense gedoen om vuurwapens verantwoordelik te hanteer.

Die man sal na verwagting Donderdag in die landdroshof op Lephalale verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jywilwat ·

Ek weet dis ‘n ernstige saak, maar toe ek die opskrif lees, het ek uitgebars van die lag!

Casper ·

Ek sluk swaar aan die storie dat hy ‘n seekoei wou skiet.Hoekom soveel wapens.Het hy lisensie vir die wapens behalwe die windbukse.

Frank ·

Hy’t nie al die wapens daar gehad nie. Op so aanklag vat hulle die wapens by jou huis ook.

ES ·

Casper, jy kan soveel wapens besit as wat jy wil, solank jy sportstatus het. Sluk ook swaar aan die storie dat hy vir ‘n seekoei gemik het.

Jaco ·

Wat sou sy motief gewees het om die seekoei te wil skiet? En is dit wettig om sulke wilde diere te skiet/te jag? Dié man gaan dalk veel meer klagtes teen hom hê weens sy “ek wou ‘n seekoei skiet” verduideliking vir wat gebeur het.

Perdeby ·

Wonder wat is nou die waarheid??? Is die man 27 of 77 soos in Netwerk24

Sandra ·

Ek het ook gelag, moenie worry as julle het nie. Ek meen, ek is nou nie maer nie, maar ek hoop ek word nooit vir ‘n seekoei aangesien nie

Swerwer ·

Jig maar hy het goeie voorsorg gestref om vir hom ‘n seekoei te probeer skiet…………wat wou hy met die arme dier maak, want man alleen kan geen mens ‘n seekoei uit die water haal nie. Die ou is seker nog nuut in die ANC bedryf, hy het nog baie om te leer om glad te lieg.

SjN ·

Die man het seker vinnig gekorrel en die grootste teiken getref!!!

LIEZL ·

Ek dink nie jy vang sommer vis langs die water waar daar seekoeie is nie. Seekoeie is gevaarlik!

Casper ·

Liezl,seekoeie val jou nie net aan nie maar as jy ‘n bedreiging raak sal hulle jou aanval.Ek het juis my grootste en meeste visse in St.Lucia by die seekoeie gevang.Hulke trap in die sand dan kom kos vir visse uit.Hulle het my nog nooit gepla nie.

Windhond ·

Liewe hel, was hy oppad Ukraine toe, wie neem so n arsenaal saam as jy gaan vis vang, hiers n slang in die gras, – sluit toe, en kom agter die kap van die byl

Miskruier ·

Jammer genoeg is daar feitlik geen kommentaar by die berigte oor landbou op dieselfde bladsy. Die dag as die anc ons voedsel moet voorsien, sal daar n geween en gekners van tande wees.

4ntj13 ·

Ek wonder tóg of die skieter se grond nie ongevraagd binnegedring is nie. Die kaliber waarmee hy geskiet het, behoort seker verder leiding te gee of hy wel na ʼn seekoei kon gemik het. Dit bly hartseer hoe mense reg in eie hande neem, en dink hulle kan met storietjies wegkom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.