Man ná twee (koue) aande op Tafelberg gered

Armand du Plessis (links) het by Massimo Filante gesit totdat reddingswerkers opgedaag het (Foto: Community Crime Prevention(CCP), Facebook)

ʼn 29-jarige man is Vrydagoggend van Tafelberg gered nadat hy Woensdag daar vasgekeer geraak en vir twee aande die koue en reën moes trotseer het.

Reddingswerkers van die Community Crime Prevention- (CCP-)organisasie, Wildernis-soek-en-redding (WSAR), Stad Kaapstad en gemeenskapslede het kragte saamgespan om seker te maak dat Massimo Filante (29) suksesvol opgespoor en gered word.

Filante, ʼn inwoner van Houtbaai, Kaapstad, het Woensdag omstreeks 13:00 die huis verlaat om die My City-bus in Houtbaai na die Waterfront te neem.

Volgens JJ de Villiers, die koördineerder van CCP, het Filante vir sy ma gesê hy gaan Waterfront toe en hy sal teen die aand terug wees by die huis. Filante en sy ma woon saam in ʼn woonkompleks in Houtbaai.

“Toe Filante die aand nie terugkeer nie, het sy ma bekommerd geraak en ons gebel,” vertel De Villiers.

ʼn Soektog na Filante is van stapel gestuur.

“Ons het Donderdag laatoggend beeldmateriaal ontvang van ʼn man wat op Tafelberg by die kabelkar se stasie sit. Die gehalte van die beeldmateriaal was swak en ons kon nie mooi die persoon op die beeldmateriaal uitmaak nie. Ons kon ook nie die persoon aan sy kleredrag identifiseer nie omdat ons nie geweet het wat Filante die dag van sy verdwyning aangehad het nie.

“Toe ons beeldmateriaal bekom van Filante wat die woonkompleks verlaat en die My City-bus in Houtbaai betree, kon ons dít met die beeldmateriaal van die man op die berg vergelyk en vasstel dat dit wel Filante was, gegrond op sy kleredrag.”

Reddingswerkers van die WSAR en die Stad Kaapstad is na die berg ontbied.

“Ons was erg bekommerd oor Filante, weens die stormweer wat Kaapstad Donderdagmiddag getref het. Dit was bitter koud en hy het ʼn dag laas geëet of gedrink.” De Villiers het vir Armand du Plessis, ʼn berghardloper, genader en gevra om die berg op te gaan en Filante gerus te stel dat hulp op pad is.

Dit is hoe dit bo-op Tafelberg gelyk het toe Massimo daarbo vasgekeer was (Foto: Verskaf)

“Ons het besef die WSAR kan dalk ʼn rukkie neem om daar aan te kom en ons kon nie vir Filante te lank alleen op die berg los nie. Veral nie sonder kos en warm klere in sulke haglike weersomstandighede nie.”

Du Plessis het 45 minute geneem om van onder tot bo op die berg te hardloop en het Filante omstreeks 14:00 bereik.

“Toe ek bo kom, was ek so dankbaar om vir Filante by die kabelstasie te sien. Ek was bang hy sou dalk afdwaal van die stasie af en nie sy weg terugvind nie,” het Du Plessis aan Maroela Media vertel.

Du Plessis het vir Filante kos en warm klere saamgevat. Hy het ook in die kabelstasie se badkamer ʼn paar komberse en koffie gekry. Dít word in ʼn kas in die badkamer gehou vir noodgevalle soos dié waar iemand op Tafelberg vasgekeer raak.

“Ons het die komberse bymekaargegooi, ʼn krismisbed gemaak en gewag totdat die reddingswerkers opdaag. Ons het koffie gedrink en ek het vir Filante grappies vertel. Ons het ook Filante se ma van my foon af gebel.

“Filante was poegaai en het aan die slaap geraak. Ek het by hom gesit totdat die reddingswerkers gekom het.”

Twee reddingswerkers van Kaapstad-metro en ses van WSAR het omstreeks 16:00 te voet daar opgedaag en Du Plessis het omstreeks 17:30 van die berg afgeklim.

Volgens Johann Marais, woordvoerder van WSAR, het hulle besluit dat die reddingswerkers die aand by Filante op die berg sal vertoef en seker maak hy is veilig en warm. Hulle wou nie die middag met die berg afgaan nie, weens die stormweer en omdat Filante ure lank nie geslaap het nie.

Filante is vanoggend (Vrydag) omstreeks 07:00 met ʼn kabelkar afgestuur.

Volgens De Villiers weet hulle nog nie presies waarom Filante Woensdag die berg opgegaan het en nie Waterfront toe gegaan het soos hy aanvanklik beplan het nie.

Hy sê dit is ook nie duidelik hoe hy op die berg vasgekeer geraak het nie, maar hy vermoed Filante het op die berg rondgewandel en die laaste kabelkar vir die dag misgeloop. Die kabelkar het die volgende dag (Donderdag) weens die slegte weersomstandighede nie gery nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ONTPS ·

Die wind was te sterk en die weer te swak, die kabelkar het nie gister gery nie

Elinette ·

Duh, die kabelkar het nie gewerk nie a.g.v. erge stormweer.

KB ·

Gure weersomstandighede – wind, koue ens. maak dit soms te gevaarlik.

Chantel ·

Soos Nataniël sal sê ” soms vra mens nie die vraag nie, want jy ken nie die omstandighede nie”

Jr ·

Die kardinale reél vir enige stapper of hiker.
MOET NOOIT MAAR NOOIT ALLEEN STAP NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.