Man ná wilde jaagtog in Pta doodgeskiet

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

ʼn Man is Maandag ná ʼn wilde jaagtog deur Pretoria se strate doodgeskiet.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die jaagtog het gevolg nadat ʼn inwoner Maandag omstreeks 11:00 van ʼn onbekende hoeveelheid kontant beroof is nadat hy geld by ʼn bank in die Quagga-winkelsentrum in die weste van Pretoria onttrek het.

“Inligting oor die voertuig, ʼn wit Volkswagen Caddy, waarin drie verdagtes gevlug het, is versprei. Die polisie se blitspatrollie het die voertuig in Kerkstraat opgespoor en van die pad probeer aftrek,” het Moloto gesê.

Die verdagtes het die polisie probeer ontduik en ʼn hoëspoedjaagtog in die rigting van Danville het gevolg. Die jaagtog het in Bruinvingergras-singel tot ʼn einde gekom waar daar ʼn oor-en-weer-skietery tussen die verdagtes en die polisie uitgebreek het.

ʼn Verdagte is noodlottig gewond. Die ander twee kon daarin slaag om te voet te vlug en is steeds soek. Die polisie het beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool en die verdagtes se voertuig. Verdere ondersoek het bepaal dat die voertuig in Oktober verlede jaar in Pretoria se middestad gesteel is.

Die polisie ondersoek ʼn saak van die besit van ʼn gekaapte voertuig en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid of die verdagtes met ander rooftogte die afgelope tyd in die omgewing verbind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stormrider

Verdagte(s) noodlottig gewond, die res vlug te voet. Dis altyd dieselfde storie. Hoekom slaag hulle konsekwent daarin om die SAPS te voet te ontvlug? Word hulle nie agternagesit nie? Frustrerend….

Leon

Dan sal ek dit weer noem, almal se obesiteits vlakke is van so ‘n aard hulle kan geen, maar geen fiksheidstoets slag nie!!

Christa venter

Waar is die honde eenheid? Waar is die motorfietseenheid? Waar is die helikopterondersteuning? Genade maar die onbevoegdheid laat mens klippe kou.

MM

Dit neem soms ‘n ruk vir die helikopter om in die lig te kom teen daardie tyd is hulle lankal weg. Dit lyk altyd vir die publiek alles gebeur as die ou op die grond sy vingers klap. Dit werk nie so nie. Ek was vir 10 jaar in die sapd. Motorfietseenheid………waarvan praat jy nou???? Honde eenheid is daar soms net 2 voertuie met honde beskikbaar vir die hele Pta. Dit hang af waar die honde voertuig is kan soms tot ‘n uur neem hang af van die verkeer. En glo my ons kon ook nie altyd die skelm in… Lees meer »

DPJ

Knap gedaan SAPD. Net jammer julle kon nie al drie wond nie.
Fiksheid sal beslis help met agtervolging.