Man ná wilde jaagtog in PTA geskiet

Argieffoto Foto: SAPS, Facebook

Argieffoto Foto: SAPS, Facebook

ʼn Vermeende kaper is Woensdag ná ʼn wilde jaagtog deur die strate van Pretoria deur die polisie geskiet en gewond.

Ao. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het gesê die man is glo deel van ʼn groep van agt mans wat vroeër die dag probeer het om ʼn vragmotor, wat sigarette vervoer het, in Mamelodi te kaap.

Die groep het ʼn BMW en VW Golf tydens die kapingspoging gebruik. “Die mans was onsuksesvol om die vragmotor te kaap, en die polisie is ontbied,” het Miller gesê.

Die polisie was op pad na die toneel toe hulle verby die BMW gery het. Daar was net een insittende in die BMW. “Die beamptes het die beskrywing van die voertuig en nommerplaat bevestig, waarna ʼn jaagtog deur Mamelodi plaasgevind het.”

Die BMW het motors van die pad af gedruk en soms aan die verkeerde kant van die pad gery en ander motoriste se lewens in gevaar gestel. Die bestuurder het by die Solomon Mahlanguweg (Hans Strydomrylaan)-oprit op die N4-snelweg geklim en in ʼn oostelike rigting na Bronkhorstspruit gejaag. Op die snelweg het hy ʼn u-draai oor die middelmannetjie gemaak en weer in die rigting van Pretoria gejaag.

Hy het die Watermeyer-afrit geneem waarna hy teen ʼn Jetta gebots het. Die man het uit die BMW gespring en probeer weghardloop. “Beamptes het twee waarskuwingskote gevuur, maar die man het dit verontagsaam. Hy is daarna in sy been gewond,” het Miller bygevoeg.

Die verdagte is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Die bestuurder van die Jetta is tydens die botsing beseer, en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte vroeër vanjaar in hegtenis geneem is in verband met ʼn ander rooftog.

Daar word vermoed dat die ander verdagtes in die Mamelodi-omgewing is. Die polisie is steeds op soek na hulle.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.