Man nag lank vasgebind ná kleinhoewe-aanval

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Bejaarde man moes ʼn nag lank vasgebind op die grond in sy slaapkamer lê nadat hy Maandag in sy huis op ʼn kleinhoewe buite Bela-Bela in Limpopo deur vier gewapende aanvallers oorval is.

Martin Neal (77) se huishulp het eers omstreeks 07:00 Dinsdag op hom afgekom toe sy aangemeld het vir werk waarna sy hulp ontbied het.

Deon Beukes, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF), het aan Maroela Media gesê Neal was vroegaand reeds in sy slaapkamer toe hy ʼn geluid by sy voordeur gehoor het. Hy het nader gestap, maar die geluid het stil geword en hy is terug kamer toe. In die slaapkamer het vier onbekende mans hom ingewag.

“[Neal] het gesê drie van die mans het vuurwapens gehad en die vierde een het iets in sy hand gehad wat ons vermoed dalk ʼn piksteel was. Die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur die skuifdeur van die slaapkamer uit die spoor te lig,” het Beukes gesê.

Hy het gesê die aanvallers het Neal in sy gesig geslaan en hy het op die grond geval. Hulle het gesê hulle gaan hom skiet. Hy het die aanvallers gesmeek om net te roof wat hulle wil en hom nie seer te maak nie. Die aanvallers het Neal vasgebind en ʼn kombers oor sy kop gegooi. “Hy het gewag dat hulle hom skiet, maar dit het later net stil geraak. Die aanvallers het met [Neal se] RAV 4-voertuig op die vlug geslaan,” het Beukes gesê.

Hy het gesê die aanvallers het ook sy selfoon en twee vuurwapens geroof. Daar is later gesien dat die aanvallers die veiligheidshek voor die voordeur oopgebreek het en ook probeer het om die houtdeur oop te breek. Daar is egter geen drade geknip om by die kleinhoewe in te kom nie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê behalwe vir die vuurwapens en selfoon, is daar ook bankkaarte, ʼn skootrekenaar en twee televisies gesteel. Ngoepe het gesê Neal moes na ʼn hospitaal geneem word vir mediese behandeling, maar hy is nie ernstig beseer nie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tweetie ·

Ag, dis so tragies om te lees. Genadiglik leef hy, hoop hy kry hulp vir al die emosionele skade!! Baie sterkte!! Hoop net die booswigte word gevang!!!!!!

anton ·

En daar is nog 2 vuurwapens in misdadigers se besit wat in die toekoms teen ander mense gebruik gaan word.
Sterkte aan die oom.

Anita Francis ·

Hoe hoor mens nie as hul jou deure afbreek nie en waar is die klein hondjie wat alarm moet maak… asb diefwering voor alle vensters en deure ! Dan wen jy bietjie tyd! Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.