Man neem glo eie lewe maande ná vrou se dood

Argieffoto. (Foto: Miguel Roberts/The Brownsville Herald via AP)

ʼn Werknemer van SANParke is Maandagoggend dood in sy huis in Beervlei naby Wildernis in die Suid-Kaap aangetref.

Kollegas het op Hendrik Davidson se liggaam is in sy huis in SANParke se personeelbehuising in Beervlei afgekom, het Nandi Mgwadlamba, ʼn woordvoerder van SANParke, gesê.

Die polisie is ook ontbied en in die stadium blyk dit dat Davidson sy eie lewe geneem het.

Davidson se vrou, Sandra, is in Desember in ʼn hospitaal in Kaapstad dood. ʼn Brand het einde Oktober talle huise in Beervlei in puin gelê en Sandra het ernstige brandwonde opgedoen.

Sy het net meer as ʼn maand later aan haar beserings beswyk. Dié verwoestende veldbrande in die Knysna-omgewing het 10 lewens geëis.

Sandra Taljaard, parkbestuurder van die Wildernis-afdeling van die Tuinroete Nasionale Park, het gesê hulle is baie hartseer oor die dood van “Beetle”, soos hy liefdevol bekend gestaan het.

“Ons het nie net een van die beste kettingsaag-operateurs in Beervlei verloor nie, maar ’n broer, ’n oom, ’n pa en ’n ondersteunende vriend vir baie.”

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het sy medelye met Davidson se familie en die gemeenskap van Beervlei uitgespreek.

“Ons gedagtes is by sy familie en kollegas wat in skok is na sy skielike heengaan.” Volgens Mketeni is traumaberaders na Wildernis gestuur om sy familie en kollegas te ondersteun.

Davidson se dood kom ʼn jaar na die verwoestende veldbrande. Die brande het die lewens van sy vrou, nog twee volwassenes, ses kinders en ʼn ongebore baba geëis.

Elsabe Florina Windvogel, Lesley Andra Bewee, Eljade Jaylene Windvogel, Ethan Calin-Lee Windvogel, Aliyah Simone Sime-Leandre Oelf, Nalaya Nashay Oelf, Niah Na-Lee Oelf, Nalani Brienne Oelf en ʼn ongebore baba, Andrea Oelf, is dood.

Die polisie kon nie onmiddellik kommentaar lewer nie. Begrafnisreëlings sal later deur SANParke bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Carien ·

Dis so hartseer en my hart gaan uit na elke familie en werkgewers wat deur die brand geraak is.

Stardust ·

Tragies, hoop nie dit is die gevolge van brandstigting nie.

M'Lady ·

Nie meer woorde oor vir hierdie land se mense en diere nie. Net hartseer en trane.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.