Man nie met Centurion-moord verbind

Die polisie op die toneel. Foto: CERT

Die soektog na die moordenaar van ʼn vrou wie se liggaam Dinsdagoggend in Centurion deur ʼn drawwer gevind is, duur voort.

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die Lyttelton-polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê voorlopige inligting tot die polisie se beskikking dui daarop dat die man wat Woensdagoggend by een van die eiendomme opgemerk is, nie met die vrou se moord verbind kan word nie.

Maroela Media het vroeër berig lede van ʼn private veiligheidsmaatskappy het die verdagte persoon naby die plek waar die slagoffer se liggaam gister in Basheestraat in Doringkloof gevind is, opgemerk en die polisie ontbied.

“Die 44-jarige man is wel na die polisiestasie geneem vir betreding. Intussen duur die polisie se moordondersoek voort,” het gesê.

Volgens ʼn ooggetuie is die man omstreeks 07:15 deur polisiebeamptes op die toneel ondervra. Hy is skraal en het donker klere aangehad.

Miller het Dinsdag gesê voorlopige inligting dui daarop dat die vrou moontlik deur ʼn skraal man in donker klere aangeval is en dat die man in die rigting van Jeanlaan gevlug het.

Die slagoffer, ʼn huiswerker in haar 40’s, is omstreeks 06:20 met ʼn mes in haar nek gesteek – vermoedelik in ʼn straatrooftog. ʼn Plaaslike inwoner wat gaan draf het, het op haar liggaam afgekom en hulp ontbied. Paramedici het die vrou op die toneel dood verklaar.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Nog ‘n siviele eis vir onregmatige arrestasie en wie moet daarvoor betaal?

Nettie ·

Ai marous, jy moet mooi lees. Die man is nie gearresteer vir die moord op die vrou nie; hy is op die toneel ondervra. Verder aan word dit wel gesê hy is na die polisiestasie geneem vir betreding; nou dáár is ek nie so seker of hy toe gearresteer was of nie – nie duidelik uit Maroela Media se berig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.