Man ondervra ná vrou se skietdood

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn KwaZulu-Natalse man is deur die polisie ingeneem vir ondervraging nadat sy vrou Vrydagaand doodgeskiet is toe sy van die werk af by die huis gekom het.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die 46-jarige vrou het omstreeks 19:00 by haar huis in Prestbury, Pietermaritzburg, aangekom toe sy voor die huis geskiet is.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is na die toneel ontbied maar die vrou was met hul aankoms reeds dood. Volgens Botha was die vrou nog in haar verpleegstersuniform geklee en is sy vermoedelik met ʼn grootkaliber vuurwapen geskiet.

Zwane het gesê hoewel die motief vir die moord nog nie vasgestel is nie, is die vrou se man later deur die polisie ingeneem vir ondervraging. Hy is nog nie amptelik vir die moord aangekla nie.

Zwane wou nie die oorledene se naam bekendmaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Retief ·

Hoë kaliber? Tog seker grootkaliber. Dis ‘n tragiese storie, veral aangesien die vrou duidelik ‘n verpleegster was wat moes omsien na ander mense se versorging. Nou eindig sy só. Mens kan so iets net nie verstaan nie, want selfs al was daar probleme, was dit sekerklik nie die enigste manier om dit op te los nie. Trouens, niks is opgelos nie, daar is net groter probleme geskep. Mens kan net vir sulke mense bid.

Mariné Lourens ·

Dagsê Retief

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.