Man ondervra oor advokaat se skietdood

Adv. Pete Mihalik is Dinsdagoggend voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

Kaapse polisie het bevestig hulle ondervra ʼn verdagte in verband met die moord in ʼn teregstellingstyl op die vooraanstaande verdedigingsadvokaat Pete Mihalik.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het egter gesê die man is nie in hegtenis geneem nie.

Mihalik (50) is vanoggend in die kop geskiet terwyl hy sy kinders, ʼn seun (8) en meisie (16), by die eksklusiewe private skool Reddam House in Groenpunt, Kaapstad, afgelaai het. ʼn Enkele koeël het hom deur die venster van sy Mercedes-Benz getref, hoewel bure agterna vertel het hulle het twee skote gehoor.

Mihalik se seun is in die aanval gewond en na ʼn nabygeleë hospitaal gejaag. Sy vrou, wat aan depressie gely het, het drie jaar gelede haar eie lewe geneem.

Misdaadtoneelondersoekers en forensiese deskundiges het die oggend op die toneel deurgebring waar hulle na leidrade gesoek het. Cavalcadeweg en ʼn gedeelte van Thornhillweg was ʼn lang ruk vir verkeer gesluit.

Rwexana het gesê ooggetuies het gesien hoe die verdagte in ʼn metaalgrys VW Polo van die toneel af vlug.

Mihalik was ʼn bekende in regskringe en het gereeld van die Kaap se mees berugte onderwêreldkarakters in die hof verteenwoordig. Van sy kliënte was die Sexy Boys-bendebaas Jerome (Donkie) Booysen en die vermeende 28’s-bendebaas Ralph Stanfield.

Hy was ook lid van die verdedigingspan wat aanvanklik die gewese eiendomsmagnaat Jason Rohde verdedig het nadat hy in verband met sy vrou se dood in ʼn hotelkamer op die Spier-landgoed in Julie 2016 in hegtenis geneem is. Rohde word van haar dood aangekla, maar voer aan sy het haar eie lewe geneem.

Mihalik se pa, Janos, het op sy dag ook ʼn aantal bendebase verteenwoordig, onder wie die destydse 28’s-leier George (Geweld) Thomas en Quinton (Mr Big) Marinus.

Mihalik het in Mouillepunt gewoon, ʼn eksklusiewe kusbuurt tussen Seepunt en die V&A Waterfront en aan die teenoorgestelde kant van die Kaapstad-stadion as Groenpunt, waar hy vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Al ·

Jammer ek wil nie onsensitief klink nie maar dis ñ geval van meng jou met die semels dan eet die varke jou.
My hart bloei vir sy kinders wat wees gelaat is.

Alida ·

Dit baie baie tragies. Die arme kinders. Dit was n man wat net sy werk gedoen het en word deur n lieplapper gemors doodgeskiet. As dit n hangende saak was kan die skieter maar weet die saak gaan aan. Alles is op leer en gestoor op rekenaar. Geen bewyse sal vernietig wees nie n ander Adv neem net oor by Pete. Dit is baie hartseer.

Estelle ·

Hy het wel ook lieplapper gemors vir “net ñ werk” verteenwoordig.
Die enigste verloorders hier is die kinders. Tragies.

Hannelie ·

Ai ek kry sy twee kinders so jammer. Hoop hul kry die gemors

jaco ·

vreemde name. half hongaars. nou wonder ek maar net: hoe kry n WIT buitelander dan werk in SA terwyl plaaslike wit mense amper nie kan werk kry nie NET omdat hulle wit is?

Reinhardt ·

Hoe is hy n buitelander? Hy was hier gebore, sy Pa ook. Is ons dan Nederlanders? Franse?

jaco ·

Die name lyk Hongaars. Hoe kry ‘n WIT buitelander dan toestemming om ‘n regspraktyk in SA te bedryf? Plaaslike wit mense sukkel dan om werk te kry.

Ouma ·

Jaco, ek was op skool met ‘n meisie met dieselfde van. Dis nie so vreemd nie. Die man is in SA gebore en sy pa het ook n regspraktyk in SA gehad. Wat maak dit nou eintlik saak wat sy van is. Sy kinders is wees gelaat deur hierdie verskriklike daad

Petro ·

Arme kinders.. Eers pleeg hulle ma selfmoord en nou word hulle pa vermoor.

Abe ·

Ek wens MM wil n artikel plaas deur n kundige om aan lesers te verduidelik hoe die proses van verdediging in ons regstelsel werk. Baie van die kommentators verstaan nog nie dat die regsproses vereis dat n aangeklaagde deur n prokureur/advokaat vir die verdediging verdedig moet word nie. Die verdedegingsadvokaat moet dan sy kennis van die strafreg gebruik om die aangeklaagde by te staan en raad te gee en hy moet probeer om die aangeklaagde los te kry. Hy vereenselwig homself nie met die misdaad wat gepleeg is nie. Hy dra sorg dat die aangeklaagde n regverdige kans kry om vrygespreek te word. Daar is nie n kwessie van “hy meng hom met die semels” nie. Soos Alida hierbo se, hy doen net sy werk. Dit is n noodsaaklike deel van die strafregsproses. Dit is n goeie beginsel van ons regstelsel.

Ai Ai ·

Abe, jy is werklik oningelig of jy probeer regslui wat kriminele verteenwoordig in ‘n beter lig stel. Die man was ‘n advokaat met ‘n privaat praktyk. Hy kies sy kliënte maw hy kies wie hy verteenwoordig, selfs al word hulle na hom verwys. Dis GELD wat die keuse maak. Hierdie onderwêreld karakters het baie geld – en dink jy dit word verdien uit ‘n eerlike bestaan? Ha ha. En hulle is bereid om BIG BUCKS te betaal om uit die tronk te bly en te keer dat die staat beslag lê op hulle misdaad-verdiende eiendom. Dit gaan eerstens oor geld vir ‘n advokaat soos hierdie en dan oor sy werk doen (wat hy in elk geval moet doen want daar is ‘n professionele kode in sy beroep). Dit gaan dus oor meng jou met die semels. En daar is heelwat senior advokate in hierdie land wat so geldgierig is. Gaan google maar wie verteenwoordig en het bekende name in strafsake verteenwoordig, en ook in sake van SARS wat belasting eis van skatryk kriminele elemente.

Abe ·

Dit is belangrik om te begryp dat die prokureur/advokaat vir die verdediging nie n maatjie of meeloper van die aangeklaagde is nie, hy staan hom net by sodat die reg sy gang kan gaan.7

Arak ·

Ons verstaan dit Abe, die vraag is net of daar ‘n korrelasie is tussen wie die man verdedig het en sy dood en ek dink dat dit ‘n redelike aanname is dat daardie korrelasie wel bestaan. Hy het tog ook ‘n keuse gemaak oor wie hy verdedig, en dit het waarskynlik tot sy dood gelei.

Diefie ·

Cowboys en crooks, die cowboys is net missing in action in ons pragtige land.
Dis dalk die kinders se behou dat dit gebeur het, sodat hulle nie dalk betrokke
Raak in die onderwêreld nie. Hoop die seuntjie word gou gesond.

jakes ·

Abe die regstelsel werk soos jy dit beskryf het maar ons regstelsel is van die swakste ter wereld. Meeste van ons regsgrade word nie deur eerste wereldlande erken nie en as jy na sommige van die regsuitsprake luister dan is dit skandelik en soms lagwekkend. Die aanstelling van advokate deur die balieraad asook die kriteria wat van toepassing is met die aanstelling van regters in SA moet deur n bevoegde span regsgeleerdes uit die buiteland ondersoek word. Wat die moord op hierdie advokaat betref is dit maar weereens n blote feit dat SA n hool geword het waar boewe links en regs mense op n daaglikse basis vermoor juis omdat die doodstraf nie meer bestaan nie en dat misdadigers die kitaar slaan. Ek bameer die regstelsel en die swak regime wat die land prober regeer.

Domvraag ·

Abe ek het nie probleem as iemand onskuldig is en sy regspan hom verdedig nie maar waar mense skuldig is en dan probeer sy regspan hom loskry sodat hy kan voortgaan met sy kriminele lewe. Om dit as net sy werk uit te maak kan ek nie aanvaar nie. Dink aan Oscar hoe daar gepoog is om hom onskuldig te kry.. kan dit regverdig word as net my werk gedoen? Om kriminele los te kry sodat jy n repetasie van n goeie verdedigingsprokureur te kry en duisende rande vra omdat jy so goeie prokureur is, kan dit regverdig word?
As ek n prokureur was en ek weet die persoon is skuldig sal ek hom nie verdedig deur myself te wil verskoon dat dit maar net my werk is nie.
Mense begin n gevoel ontwikkel teen sulke prokureurs wat alles doen om kriminele los te kry. Die wet sê die deler is net so goed soos die steler. Om geld te maak uit kriminele en meeste misdaad sindikate het voltydse prokureurs op hul payrol wie se werk dit is om hulle misdade te beskerm. Kan n christen dit regverdig as hy sy siel vir geld verkoop deur dit af te maak as net werk?

Hennie ·

Jessica hoekom wil jy weet wie word ondervra? Het jy regtig nodig om dit te weet?

VanAfrika ·

Wat maak dit saak of Jessica wil weet wie word ondervra. Dis interessant om te weet wie in die onderwêreld het die “hit” geroep. Net deur te weet wie ondervra word kan n groot skaalse misdaad web oopvlek. So ja, natuurlik moet ons nuuskiering wees wie tot so n daad sal oorgaan deur n advokaat helderoordag in sy kinders se teenwoordigheid, reg voor hul skool, te wil reg stel. Natuurlik wil ons weet wat die persoon in ondervraging weet en tot hoe diep hierdie storie sal gaan.

Tanya ·

In ‘n vorige berig het hulle genoem hy was onder 24-uur sekuriteit, maar die “bodyguards” of sekuritetis maatskappy het eers na die skietery by die toneel aangekom, hoe so? Is hulle nie veronderstel om 24-UUR by hom te wees nie? Wonder maar net…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.