Die polisie het bekend gemaak dat ʼn man vir ondervraging ingeneem is nadat hy op sosiale media beweer het die ongeluk waarin Collins Chabane, minister van staatsdiens en administrasie, dood is, ʼn sluipmoord was.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Chabane se familie het die polisie genader nadat hulle van die bewerings op Facebook bewus geword het. Die polisie het met ʼn ondersoek begin en daar is besluit dat daar genoegsame gronde is om strafregtelike klagtes aanhangig te maak.
Volgens Otto is die man vir ondervraging ingeneem, maar nog nie amptelik in hegtenis geneem of aangekla nie. The Star het vroeër berig dat die man op Facebook beweer het dat die vragmotorbestuurder wat betrokke was in die botsing waarin Chabane gesterf het, gehuur is om die minister te vermoor. Hy het verder beweer dat daar al verskeie pogings was om Chabane om die lewe te bring.
Amukelani Rikhotso, die vragmotorbestuurder, is intussen Dinsdag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy moet weer op 15 Mei in die hof verskyn. Die ongeluk het in die vroeë oggendure van Sondag 15 Maart op die N1-hoofweg naby Polokwane plaasgevind. Rikhotso het glo ʼn U-draai voor Chabane se motor gemaak. Chabane, sy bestuurder en ʼn lyfwag is in die ongeluk dood.
Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.
Huurmoord,wat sê die vragmotor bestuurder-perfek regte tyd,regte handeling,regte plek-so die fokus verkuif nou. Raak nou interresant!!!!!!!!!!!!!!!!
Dit klink vir my na ‘n bogstorie. Die vragmotorbestuurder kon onmoontlik geweet het dat die Chabane-motor so sou jaag.
As gewone mense in ongelukke sterf is dit ‘n ongeluk….. En as een of ander hoogs geplaasde in ‘n ongeluk sterf is dit sluipmoord? Koop die regering ook nou mense om, om te moor? Dit maak hulle dan niks beter as die ou regering nie…
Is hierdie nou nog ‘n Aprilgek grappie of hierdie mense eenvoudig “paranoid” en glo sulke snertbewerings?