ʼn Man het Sondag onherkenbaar verbrand toe sy motor langs die pad uitgebrand het. Ooggetuies beweer hy het homself en sy motor aan die brand gesteek.
Kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur is nadat ʼn man glo in sy wit Chevrolet Aveo langs Beyers Naude-rylaan in Muldersdrif doodgebrand het.
Foto’s van die voorval wys hoe ʼn wit motor langs die pad uitbrand en later pikswart gebrand is. Volgens inligting wat op die Facebook-groep Make SA Safe geplaas is, het die man homself en sy motor aan die brand gesteek.
Sello kon egter nie bevestig of die man wel die motor self aan die brand gesteek het, al dan nie.
“Die besonderhede rakende die voorval is nog nie bekend nie, en die slagoffer is nog nie in hierdie stadium geïdentifiseer nie,” sê sy.
“Die polisie was op die toneel en ondersoek die saak verder.”
Die polisie het intussen ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om met die polisie kontak te maak indien hulle enige inligting in verband met die voorval het.
“Alle inligting sal vertroulik hanteer word en kan by Stop Misdaad, 08600 10111, aangemeld word.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Wat n wrede manier om te gaan.
Liefdes driehoek?