Man oorleef haai-aanval by Port St. Johns

Mathieu Dasnois Foto: Facebook

Mathieu Dasnois Foto: Facebook

Mathieu Dasnois (29) van Kaapstad het ʼn witdoodshaai-aanval naby Port St. Johns in die Oos-Kaap oorleef, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Sondag gesê.

“Mathieu het Saterdag ʼn besigtigingstoer vir ʼn paar toeriste gereël op ʼn privaat boot,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê. Hy is oorspronklik van Kaapstad, maar bly al die afgelope jaar in Port St. Johns.

Mathieu, ʼn ervare en bekende spiesvisser, het omstreeks 13:30 by Sugarloaf Rock die skipper, Rob Nettleton, gevra of hy moontlik sy nuwe duiktoerusting kon uitprobeer. Hy het in die water gespring, sowat 4 m diep. Die boot het ongeveer 20 m wegbeweeg.

“Mathieu het geduik, opgekom en ʼn tweede keer geduik toe ʼn vin van ʼn witdoodshaai verskyn het.” Die haai was tussen 3.5 m en 4 m lank. “Die haai het Mathieu se hand gegryp wat hy gebruik het om die haai mee af te weer,” het Lambinon verduidelik. “Die skipper het dadelik tot Mathieu se hulp gesnel, maar toe hulle by hom kom, het die haai onderdeur die boot geswem en Mathieu aan sy voet weggetrek.”

Mathieu kon sy voet loskry en toe die haai hom weer wou gryp, was die boot in die haai se pad en kon die persone op die boot Mathieu uit die water trek.

Die persone op die boot het dadelik met noodhulp begin. “Nettleton, al vier jaar lank ʼn NSRI-vrywilliger, het ʼn baie goeie noodhulpstel aan boord,” het hy bygevoeg. “Debbie Smith, ʼn vrywilliger van NSRI Port St. Johns, was een van die bemanningslede aan boord.”

Mathieu is na die kus geneem waar die provinsiale nooddienste gereed gestaan het om hom te behandel en na ʼn hospitaal te neem.

Volgens Lambinon het Mathieu reeds ʼn operasie ondergaan en hy is in ʼn goeie luim en op pad na beterskap. “Hy het geringe beserings aan sy hande en regtervoet opgedoen,” het hy gesê.

Nettleton het gesê hul jarelange ervaring en opleiding het dadelik ingeskop, maar bygevoeg dat almal wat daardie dag aan boord was, het ʼn noodsaaklike rol vervul om die goeie uitslag te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

peet ·

Bly die man het die aanval oorleef. Ek is geen taalpuris nie maar die artikel is regtig in lomp Afrikaans geskryf. Een voorbeeld: “goeie uitslag te verseker..”? Kom nou ouens, as dit oor “praat jou taal” by Maroela gaan, kan julle beter.

Eish! ·

Jammer, maar soms voel ek dom as ek die artikels lees. Ek verstaan nie altyd nie. Na oor en oor herhaling kom ek agter maar dit is eintlik dom geskryf en vol foute.

Neptunus ·

Port St. Johns en omstreke is mos bekend vir haaiaanvalle, sommige meen dis weens die oorskot van beeste wat die plaaslike bevolking in die see laat beland.

Het die man nou werklik gedink ons grootwithaaie sal hul neuse optrek vir ‘n Franse wegneemete?

Eliza-beth ·

Port St Johns is bekend as ‘n “nursery” vir haaie en dus moet mense dit net respekteer en hulle hul plek gun. Hoop die ou herstel ten volle.

jacques ·

Ek het gelukkig ooreenkoms met hulle,ek gaan nie in hulle see nie en hulle kom nie in my bar nie.

EMK ·

Haha Jacques – ek het presies dieselfde ooreenkoms met hulle en dit werk!!

snip ·

Nee wat, Maroela, maak nie saak wat nie, ek is baie dankbaar vir die gratis nuus!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.