Man op FB-foto nié vermiste SA onnie

John Bothma (Foto: Facebook)

Die foto wat wyd op sosiale media versprei word van ʼn man wat in die An Giang-provinsie in Viëtnam in ʼn ongeluk betrokke was, is nié die vermiste John Bothma (22) van Suid-Afrika nie.

Die foto is Saterdag deur ene Christine Brophy op Facebook gedeel en noem dat die persoon in die foto van Suid-Afrika af kom. Dit is egter nie die geval nie. Volgens inligting is die persoon op die foto van Nederland en is hy ná die ongeluk in ʼn hospitaal in An Giang opgeneem.

Tientalle lesers het dié foto ook aan Maroela Media gestuur om navraag te doen of dit dalk Bothma kan wees.

Santjie Dixon, Bothma se tannie, het Maandagoggend aan Maroela Media bevestig daar is steeds geen teken van haar broerskind nie. “Baie mense stuur vir ons die foto aan van die man wat in die ongeluk was, maar dit is beslis nie John nie,” sê sy.

“John het baie donkerder wenkbroue as die persoon op die foto en het tatoeëermerke wat dié persoon nie het nie. Die ongeluk het ook hopeloos te ver noord gebeur vir dit om John te wees. Die skool waar John voorheen gewerk het, het ook by die hospitaal waar die man op die foto behandel word, opgevolg om dubbeld seker te maak en daar is bevestig dit is beslis nie John nie.”

Dixon sê in die stadium is daar geen nuwe nuus oor die soektog na Bothma nie. “Interpol is ook betrokke en hulle doen ongelooflik baie. Elke moontlike leidraad word opgevolg,” sê sy.

“Vir nou is daar niks meer wat ons kan doen nie. Ek probeer positief bly.”

Die man op dié foto wat wyd op Facebook versprei word, is nie die vermiste John Bothma nie. (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig Bothma is in November Viëtnam toe om daar te gaan skoolhou. Hy sou op 1 Junie teruggekeer het Suid-Afrika toe om te kom kuier.

Dixon het op 18 Mei omstreeks 13:00 vir die laaste keer met Bothma gepraat en sedertdien nie weer van hom gehoor nie. Sy selfoon is afgeskakel. Volgens Dixon het Bothma tydens hierdie laaste oproep “nie lekker geklink nie”.

Hy het in Ho Chi Minh-stad by ʼn vriend gekuier en sou die middag ʼn bus neem Kambodja toe. Wat daarna gebeur het, is ʼn raaisel. Bothma se vriend in Ho Chi Minh-stad en sy vriendin in Viëtnam, Jody Kurash, het ook niks weer van hom gehoor nie.

Die familie het intussen die datum van Bothma se vliegkaartjie terug Suid-Afrika toe na 18 Junie verander in die hoop dat hy indien hy dalk beseer is, tyd het om te herstel en dan na Suid-Afrika terug te keer.

Lees alle vorige berigte oor John Bothma op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hartseer ·

Haai dis verskriklik, het hulle al gaan Kyk in sy huis? Miskien is hy baie siek?

Elsabie ·

Baie dankie vir die opvolg Maroela Media. Ek hoop die man kan gou opgespoor word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.