Man op parool ʼn verdagte ná kind verdwyn

Die man wat met die verdwyning van ʼn agtjarige meisie van Elsiesrivier in die Wes-Kaap verbind word, is in die verlede al vir verskeie misdade aangekeer.

Tazné van Wyk word sedert Vrydag vermis. Sy is laas in Clarestraat, Elsiesrivier, op pad kafee toe gesien.

Terrence Manuel, Tazné se pa, vertel dat sy gereeld na die kafee, wat reg oorkant hulle is, stap.

Die eienaar van die kafee kon bevestig dat Tazné dié middag ongeveer 14:00 ʼn ysie kom koop het.

“Sy is al so skerp in haar roetine na skool. Hulle is ʼn groep kinders wat na die New Hope Centre toe stap. As iemand nog nie by die groep is nie, sal hulle die kind roep. Maar hulle het nie Vrydag nie. Dit is baie vreemd,” sê Carmen van Wyk, Tazné se ma, wat haar Vrydagoggend voor werk laas gesien het.

Die verdagte in die saak is die 54-jarige Pangkaeker Moyhdian. Die polisie het Saterdag ʼn kennisgewing uitgestuur wat sê hulle is op soek na Moyhdian omdat hy moontlik lig op Tazné se verdwyning kan werp. Verskeie soekgroepe, meestal vrywilligers uit die gemeenskap, het saam na Moyhdian gesoek met die hoop om Tazné te vind.

Volgens Candice van der Rheede van die Wes-Kaapse eenheid vir vermiste persone was die verdagte al in die tronk vir strafbare manslag en is hy tans uit op parool vir motordiefstal. Van der Rheede voeg by dat hy op ʼn soeklys vir verdagtes by die polisie in Ladysmith in KwaZulu-Natal is.

Moyhdian het tydelik by sy niggie Abigail Adams gewoon, oorkant Tazné se ouerhuis. Die kafee waar Tazné die middag nog ʼn ysie gekoop het, is reg langsaan die Adam-woning.

Van Wyk meen dat hulle vroeër ingelig moes word oor watter soort man Moyhdian is.

“Terwyl sy [Adams] haar eie dogter van hom af weggehou het, moes sy mos my as ouer kom verwittig het. Sy kon maar net kom en sê waartoe haar oom in staat is en dat Tazné moet weet om weg te bly van die oom. My kind en haar kind is goeie vriende.”

Adams sê egter haar fokus was hoofsaaklik op haar eie drie kinders. Volgens haar het sy nooit die huis verlaat nie, en was sy heeltyd by haar kinders.

ʼn Moeë Van Wyk sê haar kind is te teruggetrokke om saam met iemand te stap van wie sy niks weet nie.

“Die man moes haar bitterlik gedreig het of weggelok het. Iets drasties moes gebeur het vir haar om saam met hom te loop. Sy is nie ʼn kind wat in die rondte loop nie.”

Enigiemand met inligting oor die vermiste Tazné van Wyk kan die ondersoekbeampte, sers. Franks bel by 082 3348772.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

antieke antie ·

nog n krimineel wat losgelaat is om n kind aan te rand…. wanner gaan dit wet word dat waar sulke kriminele die ander mense ingelig word…hulle moet permanente elekroniese bande dra

jinny jualinda ·

Nog n parool geval wat gesoek word vir n misdaad. Hulle leer net meer tricks in die tronk.

Elsabe ·

Tazne, as ek net geweet het waar jy is… My hart krimp ineen vir jou. My longe wil skeur, my borskas wil skeur. Ek is so jammer dat dit met jou gebeur het. Mag Liewe Jesus sy arms om jou vou, poplap. Ek hoop jy weet dat daar onverpoos gesoek word na jou.

Emily ·

Hoekom kry die kriminele so gou borg, Almal weet hulle gaan net weer n misdaad pleeg.
Word tog wakker asb.

Hekwag ·

AS dit wel hy is, maak hom die eerste teregsteling van die herinstelling van die doodstraf. Hy het al heeltemal genoeg kanse gehad!

Sarita ·

Ek hoop van harte dat sy gevind sal word. Sonder enige leed.
My hart gaan uit aan die Van Wyk familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.