Man op parool vas vir moord op pa van KZN

Jacques Oosthuizen en sy vrou Samantha. Foto: IOL

ʼn Man wat op parool vrygelaat is nadat hy aan gewapende roof skuldig bevind is, is in hegtenis geneem in verband met die moord op Jacques Oosthuizen.

Oosthuizen (35), ʼn inwoner van Waterval in KwaZulu-Natal en ʼn pa van twee dogters, is verlede maand deur twee mans in sy huis oorval, geskiet en met ʼn mes gesteek. Hy het drie dae ná die aanval weens ʼn hartaanval gesterf, berig die Daily News.

Oosthuizen se vrou, Samantha, en dogters, Claudia (15) en Storm (10), sukkel om sy dood te verwerk. Hulle het van die huis gevlug en woon tans by ʼn familielid. Hulle wil nie na die huis toe terugkeer nie.

Beamptes van Durban se organiseerdemisdaad-eenheid het een van die verdagtes Maandag in Molweni in hegtenis geneem. Die verdagte, wat 11 jaar van sy 18 jaar vonnis uitgedien het, is in Maart op parool vrygelaat. Die polisie het beslag gelê op verskeie gesteelde selfone en simkaarte, juweliersware en elektroniese toestelle. ʼn Toyota Yaris wat as gekaap aangemeld is, is glo ook in die verdagte se erf gevind.

Sy vermeende medepligtige is nog soek.

Bron: Daily News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudie Thirion ·

Die Afrikaans vir “organised crime” is “GEorganiseerde misdaad” en nie “organiseerdemisdaad” nie. En let wel, twee woorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.