Man op parool verkrag glo vrou, dogter

Argieffoto

ʼn Man sal na verwagting vandag (Maandag) in die Belfast-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat hy glo onlangs ʼn vrou (28) en haar vierjarige dogter verkrag het. Die man was ten tyde van die voorval uit op parool nadat hy vantevore van moord aangekla is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê in ʼn verklaring die verdagte (35) is Vrydag in Machadodorp in hegtenis geneem waar hy in ʼn informele nedersetting weggekruip het.

Volgens Hlathi het die man na bewering Donderdag die vrou en haar kind by hulle huis besoek. Hy is by die huis ingenooi waarna hy oomblikke later die vrou met ʼn mes gedreig het. Hy het toe die vrou en die kind na ʼn kamer in die huis gestuur waar hy na bewering albei verkrag het.

Een van die vrou se bure het egter gesien hoe die man uit die huis vlug, onraad bespeur en die polisie ontbied.

Ma en dogter is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek twee aanklagte van verkragting.

Lt.genl. Mondli Zuma, polisiehoof in Mpumalanga, het sy teleurstelling oor die misdryf uitgespreek.

“Wat hierdie verdagte gedoen het, is so teleurstellend, veral in dié tyd dat ons as land alles moontlik doen om geslagsgebaseerde geweld te bekamp.

“Hierdie verdagte was veronderstel om ʼn ambassadeur vir verandering te wees, terwyl hy ander mans daarbuite moes leer dat geweld teen vroue en kinders nie meer geduld kan word nie. In plaas daarvan het hy egter getoon dat hy nie geskik is om in ʼn gemeenskap te woon nie,” sê Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.