Man op plaas aangerand, hond vergiftig

Argieffoto: Maroela Media

ʼn Plaaswerker is aangerand en ʼn ander werker se hond vergiftig in die jongste plaasaanval wat Dinsdag in die vroeë oggendure buite Koster in Noordwes plaasgevind het.

Lt.kol. Adel Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê vyf aanvallers het net ná middernag op die plaas sowat 20 km buite Koster toegeslaan.

“Daar is ʼn klomp huisies op die plaas waarin onder andere die plaaswerkers woon. Die aanvallers het een van die werkers se honde vergiftig. Hulle het toe na ʼn ander huisie gegaan en die deur afgebreek,” het Myburgh gesê.

Myburgh verduidelik verder dat drie mense, twee mans en een vrou, deur die aanvallers vasgebind en ʼn vuurwapen op hulle gerig is. “Hulle het toe die huisie as’t ware leeg gedra en die gesteelde goedere bo-op die plaaswerker se bakkie gelaai.”

Een van die mans is vermoedelik met ʼn stok aangerand, maar het net geringe beserings opgedoen. Hy is nie hospitaal toe geneem nie.

Volgens Myburgh moet daar nog presies bepaal word wat alles gesteel is, maar daar is onder meer ʼn televisie, selfone en kontant gesteel.

Die aanvallers het daarna na die eienaar van die plaas se huis beweeg.

“Die hek waardeur mens toegang tot die huis verkry, is oopgebreek. Ons vermoed iemand of iets het hulle gepla waarna hulle op die vlug geslaan het met die werker se gesteelde bakkie. Hulle het glad nie die huis binnegegaan nie.”

Myburgh verduidelik dat een van die werkers wat vasgebind was daarin kon slaag om homself los te wikkel. Hy het na die voorman gegaan wat die plaaseienaar van die voorval in kennis gestel het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

michelle ·

almal se lewens is in gewaar boere en die plaaswerkers. ai

Ja hoor ·

AS die plaaswerkers aangeval word gaan die REgERING en minister van landbou seker nou iets doen. want as die boere afgemaai word word daar niks gedoen nie, dalk is ‘n plaaswerker se lewe meer werd? Arme honde wat altyd vergiftig of geslaan of aangerand en met messe gesteek moet word .. die arme wesens word ook aangehou vir ‘sekuriteit’ en moet meeste van die tyd met hulle lewens daarvoor betaal. SIEK WERELD DIE.

Cor ·

Ek glo nie die regering saliet daaraan doen nie al is dit n swart werker. Daar word net in die belang van n plaaswerker opgetree indien daarn gerug is dat die boer die werker benadeel het, het sy dit waarof onwaar is. In die geval is die werkers beroof deur misdadige elemente en die regering voel n veer daarvoor. Sekere elemente in die regering van die dag is moontlik net spyt die boer is nie aangeval en beroof nie.

Ella ·

Hoe hartseer. Die skelms ontsien niemand. Selfs plaaswerkers se goed en lewens word bedreig. Wat en wie is hierdie duiwels? Gaan dit nooit weer ophou?

Ziska Brits ·

Wat van ou winnie m sit agter al die stories en sy lag haar gat af?

Johanné Steyn ·

Ek dink liewer die booswigte het gedink dat dié “huisies” wit plaasboere se huisies is, want uit my ondervinding as vorige pastoriemoeder van Derby, naby Koster, bly die plaaswerkers in pragtige plekke omdat die boere in daardie omgewing ontsettend goed kyk na hulle werkers.

Johann ·

My gevoel is dat in die omgewing te veel onwettige asook wettige immigrante in beheer is van die verkoop van alchohol, dit tydig en ontydig. Ons moet dalk vir ‘n keer hierna kyk. Mev Steyn se argument is baie waar, ons mense gee om vir ons werkers en het ‘n hoë wedersydse vertroue

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.