Man op plaas doodgeskiet ná Sondagmiddagete

geweerCarl Wessels (55) is Sondag op ʼn plaas naby New Hanover in KwaZulu-Natal doodgeskiet toe hy, sy vrou en twee vriende inbrekers by hul vriende se plaashuis onkant betrap het.

Wessels, sy vrou Wendy, en Christine en Robert Wilson het Sondag ná ʼn middageteuitstappie teruggekeer na die Wilson-egpaar se plaas. Hulle het drie mans op heterdaad betrap wat besig was om die huis te besteel. Hulle was glo ook besig om die Wilson-egpaar se voertuig te probeer steel.

Brian Jones, die stigter van die gemeenskapsbeveiligingsorganisasie SA CAN, het gesê drie verdagtes het die egpare oorrompel en in die plaashuis in gedwing. Die verdagtes was onderskeidelik met ʼn mes, knopkierie en vuurwapen gewapen.

“Die huis se alarm het kort daarna afgegaan en die rowers het begin paniekerig raak,” het Jones gesê. Wessels is van naby doodgeskiet, waarna die verdagtes te voet gevlug het. Hy is op die toneel dood verklaar.

Kapt. Thulani Zwane, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval Dinsdag aan Maroela Media bevestig. Zwane het gesê die polisie se forensiese eenheid fynkam die toneel vir enige leidrade.

Zwane het gesê die verdagtes het twee rekenaars, ʼn drukker, selfone en beursies gesteel.

Niemand is nog teen Dinsdag in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die New Hanover-polisie ondersoek ʼn saak van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.