Man op plaas vasgebind, huis leeggedra

plaas-polisie-veld

Argieffoto

Aanklagte van huisroof, voertuigdiefstal, huisbraak asook diefstal word ondersoek ná ʼn voorval op ʼn plaas in die Oos-Kaap.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Dinsdag omstreeks 07:30 op ʼn plaas buite Grahamstad plaasgevind.

“ʼn Onbekende aantal verdagtes het die huis van ʼn werker op die plaas binnegegaan. ʼn Man en vrou en hul twee kinders was in die huis en die man is met kabelbinders vasgebind,” het Govender gesê.

Volgens Govender is die gesin nie aangerand nie, maar is hulle wel uiters getraumatiseerd ná die voorval.

“Voordat die verdagtes van die toneel gevlug het, het hulle twee selfone sowel as die sleutels van ʼn bakkie wat op die werf geparkeer was gesteel.”

Govender het gesê die verdagtes het daarna na die hoofhuis op die plaas gegaan, die veiligheidshek oopgeforseer en die huis waarvan die inwoners nie tuis was nie binnegegaan.

Volgens haar het hulle van die toneel gevlug met verskeie vuurwapens, juweliersware, kontant, ʼn kragopwekker, ʼn Suzuki-bootenjin, ʼn stel gholfstokke, ʼn skootrekenaar sowel as ʼn silwergrys Polo Playa-voertuig.

Brig. David Kanuka, bevelvoerder van die polisie in Grahamstad, het die voorval as skokkend beskryf. Volgens Kanuka is albei voertuie Dinsdag in Port Elizabeth opgespoor.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om hul naaste polisiestasie te kontak. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hendrik ·

David Kanuka beskryf dit as skokkend maar agbare brigadier wat se jy van plaasmoorde?

Skokkend ja ·

Hoekom is die voorval skokkend? Omdat ‘n PLAASWERKER beroof is? Vreemd dat dit nie skokkend is as die BOERE vermoor word vir dieselfde nie. Die plaaswerker het NIKS oorgekom nie maar dit is skokkend, boere en hulle vrouens word wreed gemartel, vermink en verkrag en dit is nie SKOKKEND nie? So kom julle ware kleure maar uit. En ons het mos gese die kriminele gaan van boere oorgaan na werkers, maar dis mos ‘n “rassistiese” uitlating gewees, so deal maar daarmee. Dit gaan toeneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.