Man op Pta-kleinhoewe vermoor; gesin vasgebind

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Volskaalse soektog is van stapel gestuur na vier mans wat ʼn 63-jarige man op sy kleinhoewe buite Pretoria vermoor het.

Konst. Tumisang Moloto, woordvoerder van die Erasmia-polisiestasie, het Maandag gesê die polisie het Saterdagaand omstreeks 20:00 op die man se kleinhoewe langs Boundarystraat in Laezonia, in die weste van Centurion, opgedaag en sy liggaam in ʼn plas bloed buite sy huis aangetref.

“Daar word vermoed dat die man sy honde hoor blaf het en buite toe is om ondersoek in te stel,” het Moloto gesê. “Hy is buite deur vier gewapende verdagtes oorweldig. Skote is gevuur en die man is in sy bolyf getref.”

Die verdagtes is in die huis in waar hulle die man se vrou en twee kinders met toue vasgebind het. Hulle het die huis geplunder en op vlug geslaan met selfone, ʼn beursie en ʼn vuurwapen.

Die man is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die vrou en kinders is ongedeerd maar erg getraumatiseerd.

Die Erasmia-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om na vore te kom met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Bel die polisie by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Irene ·

Het die mense nie geleer as honde blaf moet jy nie uit gaan nie

Idee ·

Dit is n groot fout, en ongelukkig maak baie mense die einste fout en boet met hul lewens daarvoor. Daarom moet mense bewus gemaak word van hoe om sulke situasies te hanteer. Daarom vra ek vir Maroela om asseblief n gereelde rubriek te plaas oor hoe ons die situasies kan hanteer.

Chrisjan ·

Irene, daar is verskeie redes hoekom honde op ‘n plaaswerf blaf, dit kan vir ‘n slang op die gras wees, ‘n mislikejaatskat wat jou hoender eiers wil steel, die perde wat uit die stal gekom het en oppad is teerpad toe, die hanskalf wat nie toegemaak is nie, ‘n jakkals wat die honde teen die draad kom terg of die waterbokke wat op die grasperk kom wei. Baie, baie redes so dink asb voor jy so oordeel.
Daar is egter ‘n organisasie wat boere kan help om die bedreigings te herken, verstaan en te elumineer. http://www.akskagroep.com

Christine ·

Ek is ń maand gelede deur 4 gewapende mans in my huis, net ń blok weg van die insident, aangeval. Seker dieselde arrogante kriminele. My deure was toe en my hekke gesluit. Dit het hulle nie uitgehou nie. Hulle kom in groot groepe en mens is magteloos. Hou die kritiek. Dis onaangenaam genoeg om deur so iets te leef en deur die trauma te werk na die tyd. Empatie is al wat die arme mense nou sal deurdra. Gelukkig is Laezonia ń fantastiese gemeenskap.

vermeende ·

As die man soos zumpie n sekuriteitstelsel gehad het van R238 200 000.00 dan sou hy nog gelewe het!

L ·

Ai mense wat se kommentaar is dit. Hoekom so afbrekend wees? Baie sterkte aan sy gesin.

M ·

Aih L ek stem saam jou…..nie eens n simpatieke of bemoedingende woord v d 2 nie. Hoeveel nog vra ek hoeveel nog …..geen menslikheid….hul verdien ook nie om te leef nie. My innige simpatie aan d familie. Jy kan gelukig dink wat jy wil maar ongelukkig nie sê wat jy wil nie

Francis ·

Inige simpatie aan die gesin ! Maak nie saak of jy uitgaan en ondersoek instel nie . niks hou hul meer buite nie ! Nie diewering veiligheidshekke of wat ookal nie ! Almal in SA se lewe is ingevaar ! Al wat ons kan doen is om in eenheid te bid ! Die wapenrusting van God aan te trek !

Winston ·

Sterkte aan sy naasbestaandes. Ons is nie almal militêr paraat nie en almal is nie opgelei in wapen hantering nie. Diere gedrag is nog n wetenskap op sy eie. Jammer maar die sisteem laat ons in die steek. Hoop hulle word vasgetrek vir hierdie weereens barbaarse, lafhartige aanval deur vier goed ingeligte lafaards op een weerlose man.

realis ·

Dit is nou maar een ding van my ou Afrikaner volkie. Altyd gereed om raad te gee en kommentaar te lewer van die kantlyn af.
Hierdie mense wat deur hel is het NIE jou ongevraagde onosele voorstelle of patetiese kommentaar nodig nie.
Bemoediging en vertroosting is wat gevra word. As jy dit nie kan doen nie, weerhou jou dan asseblief van verbale vergrype

Willie ·

Wat n tragedie, alle strekte aan die familie, dis voorwaar weer platante moord. Ek het al so gehoop dat een of ander sekuriteits firma, met bekostigbare “early warning” sisteem voor n dag kom… Kan maroela nie help vir so berig nie?

Cornelia ·

Vermeende: dis ongelukkig vir die meeste boere veels te duur om ‘n sekuriteitstelsel te hê. Onthou, plaas erwe is gewoonlik baie groter as dorps erwe. Gaan vind bietjie uit hoeveel kos elektriese heining per meter dan maak jy die sommetjie vir ‘n normale grootte erf…verdubbel dit dan vir ‘n plaas erf. Nou nie dat die heinings hulle uithou nie. Sit nog beams en kameras by dan raak dit ‘n belaglike groot bedrag wat 99% mense nie kan bekostig nie.

Ria ·

Waar wat jy se Cornelia. Ek het 3jr terug n kwotasie vir n 1/2 hektaar elektriese heining gevra. Dit was R89000. Dan saam met kameras en beams amper R120 000. Wie kan dit sommer net so cash uithaal? My broer het op sy plot in Boschkop omgewing elektriese heining en nog kom hul in. Druk mikstok onder heining om dit te lig en dan seil hul op hul mae onder deur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.