Man op Pta-kleinhoewe vermoor toe hy wou help

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Middeljarige man is die afgelope naweek in ʼn huis op ʼn kleinhoewe buite Centurion vermoor toe hy sy buurman tydens ʼn aanval wou help.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het by navraag aan Maroela Media gesê vier verdagtes het Saterdagaand omstreeks 20:35 deur ʼn oop deur toegang tot die hoofhuis op die kleinhoewe in die Erasmia-omgewing verkry terwyl die gesin in die sitkamer gesit het.

“Die verdagtes het almal klapmusse aangehad en was gewapen. Een man het ʼn koevoet by hom gehad. Hulle het die huiseienaar vasgebind en juweliersware, selfone en ʼn televisie geroof,” het Huma gesê.

Die middeljarige slagoffer, wat elders op die kleinhoewe gewoon het, het die rumoer in die hoofhuis gehoor en gaan ondersoek instel.

“Die slagoffer het met ʼn haelgeweer in die huis ingegaan om te help. Die verdagtes het hom in die bolyf geskiet en hy is op die toneel dood.”

Die verdagtes het glo te voet gevlug. Die polisie en lede van AfriForum-buurtwag het lank na die verdagtes gesoek, maar kon hulle nie opspoor nie.

Die Erasmia-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die oorledene het glo alleen in ʼn huis op die kleinhoewe gebly. Sy naam kan nog nie bekend gemaak word alvorens al sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net 1 ·

Hy was ‘n held. Hy was bereid on sy naaste te help. Rus in vrede….

Chris Ws ·

Ai hoe tragies!Weereens ‘n bewys dat mens EERSTE moet skiet en agterna vrae vra ongeag wat die anc wette se.Die’ bendes is NIE wetsgehoorsame burgers se vriend nie.
So jammer die mense was niks paraat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.