Man op rubberboot verdwyn in see

Argieffoto: NSRI

ʼn Man het Sondag tussen Pearly Beach en Dyer-eiland in die Wes-Kaap vermis geraak op sy rubberboot.

“Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Hermanus-span is Sondag omstreeks 11:21 in kennis gestel van ʼn 31-jarige man wat vermis word,” het die NSRI gesê.

Die man het glo 15:00 Saterdag vanaf Pearly Beach vertrek in sy grys rubberboot en is sedertdien soek. Hy het nie by Dyer-eiland opgedaag soos beplan nie en het ook nie na Pearly Beach teruggekeer nie.

Die NSRI en die seereddingskoördineringsentrum (MRCC) het saamgespan om soekpatrone uit te werk en het die weer- en windtoestande en seestrome in ag geneem.

Verskeie vaartuie is uitgestuur om die groot gebied te deursoek te midde van slegte weerstoestande en sterk winde van meer as 100 km/h.

“ʼn Omvattende soektog is gedoen vanaf Pearly Beach tot by Dyer-eiland ver verby die suidwestelike dele van Kaappunt, maar daar was nog geen teken van die man of die rubberboot nie,” het die NSRI gesê.

Die polisie hanteer dié voorval as ʼn vermistepersoonsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.