Man pleit skuldig jare ná moord op bejaarde

Shaun Oosthuizen 41) [Foto met vergunning van Laevelder]

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die 85-jarige Hetta Potgieter in 2018 vermoor het, het Woensdag in die hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, skuldig gepleit op alle aanklagte teen hom.

Shaun Oosthuizen (38) het skuldig gepleit op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Maroela Media het vroeër berig Potgieter se liggaam is op 9 Julie 2018 in haar selfsorgeenheid by die Macadamia-versorgingsoord in Mbombela gevind. Haar hande was vasgebind en daar was ʼn voorwerp om haar nek gebind. ʼn Personeellid van die versorgingsoord het haar liggaam in die badkamer aangetref.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het Oosthuizen die dag van Gauteng na die versorgingseenheid in Mbombela gereis. Hy het die versorgingseenheid betree en na die eenheid gegaan waar Potgieter gewoon het.

“Potgieter se deur was oop en hy het binnegegaan. Hy het haar aangerand, vasgebind en verwurg. Sy is op slag dood,” bevestig Nyuswa.

Oosthuizen het Potgieter verder van ’n bedrag van R10 000 beroof en van die toneel gevlug. Sy het die geld by haar gehad om haar maandelikse betalings te doen.

Oosthuizen is saam met John du Plooy (26) en Maryna Mandy Vorster (48) vyf dae ná Potgieter se moord in Krugersdorp in hegtenis geneem. Die klagtes teen Du Plooy en Vorster is intussen teruggetrek weens onvoldoende bewyse teen hulle.

Advokaat Vuyo Mkhulisi het aan die hof gesê dat Oosthuizen skuld beken het vanweë die oorweldigende getuienis wat die staat teen hom het. Beeldmateriaal van kringtelevisies wys duidelik hoe Oosthuizen by die oord uit sy voertuig klim, later weer terugkeer en wegry.

Mkhulisi het aan die hof gesê Oosthuizen het ook ’n lys van vorige oortredings teen hom. Dit sluit talle misdrywe teen bejaardes en kwesbare slagoffers in. Volgens Nyuswa sal hierdie oortredings in gedagte gehou word wanneer ʼn vonnis opgelê word.

Mkhulisi het geargumenteer dat die hof nie van die voorgeskrewe minimum vonnisse moet afwyk nie.

Regter Johnna Mthimunye het die vonnisverrigtinge tot Donderdag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Hoekom was hy vrygelaat…sy kon nog geleef het.
Kan iemand verduidelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.