Man pleit skuldig vir verkragting, moord van 12-jarige

Michaela Williams (12) (Foto: SAPS)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 12-jarige meisie in Januarie vanjaar vermoor het, het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig gepleit op alle aanklagte teen hom.

Steven Fortune het skuldig gepleit op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van verkragting en ʼn aanklag van ontvoering.

Volgens die staat het Fortune, wat bekend was aan die 12-jarige Michaela Williams en haar gesin, vooraf beplan om die kind te verkrag en te vermoor.

Michaela, ʼn meisie van Pelican Park, is op 7 Januarie as vermis aangemeld. Sy het die betrokke aand net na 19:30 verdwyn toe sy na aandete buite gaan speel het.

Fortune het haar na ʼn leë erf, nie ver van haar ouerhuis af nie, gelok.

Volgens ʼn opsomming van feite wat aan die hof voorgelê is, het Fortune vir Michaela gewurg. Sy het probeer terugbaklei en in die proses sy bril afgeslaan. Daarna het hy die frokkie wat sy aangehad het van haar lyf geskeur en die materiaal gebruik om haar hande agter haar rug vas te maak.

Fortune het Michaela toe verkrag.

Toe sy om hulp probeer skree, het hy haar romp gebruik om haar te wurg in ʼn poging om haar stil te hou.

Die staat voer aan Fortune het twee betonblokke op die jong meisie se kop gegooi en haar liggaam daarna met ʼn kombers bedek voordat hy gevlug het.

Fortune is al voorheen beskuldig van poging tot moord en die verkragting van ’n minderjarige.

Die polisie het hom ’n dag ná Michaela se verdwyning ingeneem vir ondervraging.

Fortune het op daardie dag ’n boodskap aan ’n familielid gestuur, wat weer aan die polisie gesê het waar Fortune hom bevind.

Ná sy inhegtenisneming het hy ’n verklaring afgelê waarin hy aangedui het waar Michaela se liggaam is.

Volgens die nadoodse ondersoek is die oorsaak van Michaela dood ʼn kombinasie van verwurging en ʼn hou teen die kop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

popsa ·

Hierdie gebeure is die direkte gevolge van vrylik beskikbare pornografie. Die samelewing maai wat gesaai is deur wetgewing (of liewer, gebrek daaraan), en jong kinders, meisies en vroue betaal die prys oor en oor.

Vonnie ·

alreeds voorheen aangekla vir poging tot moord en verkragting, en hy was uit om te doen wat hy wil! daarom het ons ‘n beter stelsel nodig, en as die howe dit nie kan gee nie, moet boendoe gereg sy gang gaan. raak ontslae van die vullis vir eens en altyd! voor hulle weer uitkom en nog onskuldige kinders verkrag en vermoor!

Pierre ·

En nou gaan hy lekker in die tronk sit. Want hy het mos regte. Vat die vark uit. Sterkte aan die familie.

christo ·

Hoekom word verkragters net liggies gestraf? Hulle is die skuim van die aarde.
Die verkragters is meestal bekend aan die gesin, was hulle bewus van sy verlede? ‘n Jakkals verander van kleur maar nie van geur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.