Man poog vergeefs om sterwende vrou wakker te hou

Jill en Otto Masterson. Foto: Facebook.

Jill en Otto Masterson. Foto: Facebook.

Jill Penelope Masterton was nie bang om vir hulpelose diere op te staan nie, en was ook bang nie vir haar moordenaars nie. Só het Jill se seun, Kai, gesê nadat sy ma Donderdagaand deur ʼn groep mans tydens ʼn huisroof vermoor is.

Maroela Media het vroeër berig dat Masterton (62), ʼn diereregte-aktivis van Kromdraai buite Krugersdorp, vermoor is terwyl sy skynbaar probeer het om haar honde te beskerm.

Jill en haar man, Otto, is dié noodlottige aand deur ʼn groep gewapende mans in hul huis op die Letamo-wildsplaas en –landgoed aangeval. Die egpaar woon al tien jaar lank op die landgoed, en was in dié tydperk net een keer die slagoffers van ʼn diefstal.

“Hulle het my ouers eers saam aangehou, maar later van mekaar geskei,” het Kai gesê. “Hulle het my pa in die sitkamer aangehou terwyl hulle my ma deur die huis geneem het sodat sy vir hulle kon wys waar die kluis en ander waardevolle items is.”

Kai het gesê die presies gebeure rondom die moord op sy ma is steeds nie duidelik nie “Die mans het vir een of ander rede baie aggressief geword en my ouers kon glad nie met hulle redeneer nie. My pa het gesê hulle kan enigiets vat wat hulle wil, waarna hulle hom aangerand het.”

Die aanvallers het Jill oor haar kop geslaan en met ʼn skerp voorwerp gesteek.

“Die mans het ná die aanval my ouers met hulle gesigte na mekaar toe vasgebind. My pa het my ma se laaste oomblikke saam met haar spandeer deur met haar te praat om te keer dat sy aan die slaap raak.”

Otto kon daarin slaag om homself los te wikkel en hulp te ontbied. Paramedici was kort daarna op die toneel en het tevergeefs probeer om Jill te red. Sy is op die toneel dood verklaar.

Kai het gesê sy pa het ʼn paar snywonde en kneusplekke opgedoen. “Hy is erg getraumatiseerd en mis my ma baie. My ma was ʼn supermens wat geen perke gehad het nie. Sy was die mees ongelooflike persoon wat ek ooit geken het. As ʼn mens haar ontmoet het, selfs net vir ʼn minuut, sou sy ʼn indruk gemaak het. Sy was nie bang vir die mans wat haar vermoor het nie. Sy het nie vreesbevange vir hulle weggekruip nie. Sy was vir niks bang nie.”

Jill het haar lewe daaraan gewei om na diere om te sien. Sy was veral ʼn kampvegter in die stryd teen die geblikte jag van leeus en renosterstropery. Sy het ook gereeld as vrywilliger by verskeie dierebeskermingsorganisasies uitgehelp.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat vyf gewapende mans in verband met die voorval gesoek word. Die Krugersdorp-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak. Die gesin hou Sondag ʼn private diens om haar lewe te vier en te gedenk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

James Botha ·

Jis mense- dit is om van SIEK te word!!! Innige simpatie aan die res van die gesin,STERKTE vir die tyd wat voorle. Dit was werklikwaar n SWART week of twee vir Suid Afrikaners gewees, selfs in buiteland word ons mense afgemaai soos insekte. Hierdie beker het nog elke keer verby my gegaan en ek is BAIE DANKBAAR daaroor – maar wanneer, wie en waar is dit volgende? Wanneer is dit “ons” beurt? HERE help ons asseblief!! Nie net die Bothas nie, maar vir al U kinders….gee raad, troos, sekuriteit. Gelooof is daar – maar ek verstaan nie wat hier gebeur met ons mense nie…..

anet ·

Ja James, ek stem saam met jou Suid-Afrika is ‘n slagveld. ‘n Lewe beteken vir hierdie Barbare niks, hulle is leeg in hulle harte. Al hierdie dinge laat my dink aan die “Mau Mau” in Kenya, gedurende die 1950-54, en hoe wreedaardig hulle mense aangeval en vermoor het. Suid-Afrika is besig om in daardie rigting te beweeg. Gaan google dit gerus, baie skokkende geskiedenis

My innige simpatie aan haar familie, dit is nou vir hulle ‘n bitter tyd, en vol hartseer. Ek bid, hoop en vertrou dat julle spoedige berusting en troos sal vind.

Giel Nel ·

James/Anet, stem volkome saam. Ons regsstelsel maak voorsienning dat dade soos die in S.A gepleeg kan word en die skuldiges op die strate bly om hulle moord togte voortesit. Swak polisie werk in die ondersoeke na moordsake is aan die orde van die dag. Twee sake wat uitstaan Oscar / Dewani sake gee ‘n bitter smaak in die mond. As die hooggeplaastes in die parlement nie dissiplinne het nie, hoe sal dit beter gaan met die gewone man op straat vlak.

Giel Nel ·

James/Anet, stem volkome saam. Ons regsstelsel maak voorsienning dat dade soos die in S.A gepleeg kan word en die skuldiges op die strate bly om hulle moord togte voortesit. Swak polisie werk in die ondersoeke na moordsake is aan die orde van die dag. Twee sake wat uitstaan Oscar / Dewani sake gee ‘n bitter smaak in die mond. As die hooggeplaastes in die parlement nie dissiplinne het nie, hoe sal dit beter gaan met die gewone man op straat vlak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.