Man praat ná AK47-aanval: ‘Ek herleef dit elke dag’

James Reed. Foto: Verskaf

Dit is al meer as nege maande sedert James Reed (44), ʼn oudpolisieman en operasionele bestuurder by ʼn sekuriteitsmaatskappy in Polokwane, tydens ʼn transitorooftog drie keer met ʼn AK47-aanvalsgeweer geskiet is – maar dié opdraande herstelpad is nog ver van verby.

“Ek is nie goed met datums nie, maar glo vir my dit voel of ek elke dag op 3 Mei wakker word. Ek herleef dit elke dag,” het Reed aan Maroela Media gesê oor dié dag wat alles verander het.

Dié pa van twee van Polokwane is op 3 Mei verlede jaar gedurende ʼn mislukte transitorooftog herhaaldelik geskiet toe hy ʼn geldwa begelei het. Aanvallers het Reed tydens die rooftog langs ʼn voertuig gesleep en later van ʼn brug afgegooi. Hy kon daarin slaag om na die naaste pad te kruip waar iemand hom te hulp gesnel het.

Reed het gedurende die aanval sowat 1,7 ℓ bloed verloor en is dae lank onder verdowing in die waakeenheid van ʼn hospitaal behandel. Van daar het noodoperasies en etlike weke in die hospitaal gevolg voordat hy eindelik sy herstelpad tuis kon voortsit.

Vir Reed was daar egter geen terugkeer na die lewe wat hy voorheen geken het nie. Hy vertel hy sukkel om te loop aangesien hy geen gevoel in sy linkerbeen het nie. In sy linkerarm ervaar hy vandag nog die sensasie van naalde en spelde en as gevolg van voortdurende pyn kan hy steeds nie vir lang tye aaneen sit of staan nie.

Die ergste is egter die posttraumatiese stresversteuring waaraan Reed ly sedert die aanval.

“Ek sukkel,” erken dié 1,89 m lange man wat sy lewe lank in die polisie en toe later in veiligheidsdienste gewerk het. “Ek weet nie meer hoe dit voel om James te wees nie. Ek kan nie meer my ou lewe onthou nie. Ek is verlore.”

Hy vertel dat waar hy ʼn vredeliewende mens voor die aanval was, hy nou vinnig kwaad word en daagliks moet sukkel om sy humeur in bedwang te bring. Hy sukkel ook om te slaap en bly onrustig.

Die traumatiese ervaring het ook ʼn impak op Reed se beroep gehad. Hoewel hy wel teruggekeer het na die sekuriteitsmaatskappy waar hy ten tyde van die voorval gewerk het, is hy nou grootliks verantwoordelik vir administratiewe werk by die maatskappy.

“Ek probeer my besig hou, maar ek kan nie werk waar daar wapens is nie. Ek hoort eintlik nie by die werk nie, want ek kan enige tyd skrik. Dit is ʼn moeilike situasie. Ek probeer maar positief en sterk bly. Ek probeer dink voor ek doen,” sê hy.

Ja, hy het traumaberading ontvang. “Dít het dinge egter net erger gemaak. Hoe meer ek daaroor gepraat het, hoe meer het ek die dag herleef en angsaanvalle begin kry.”

Hy vertel dat hy weens die posttraumatiese stresversteuring elke dag adrenalien afskei. Hy gebruik medikasie om sy simptome in bedwang te hou en werk nou saam met ʼn psigiater wat hom help wanneer hy dit nodig het.

James Reed se private voertuig. Foto: ER24

Maroela Media het destyds berig dat die koeëls reg deur Reed se lyf gegaan het. Die dokter het gesê as hy met ʼn pistool geskiet was, sou die koeëls heel waarskynlik in sy lyf vasgesit het.

Reed het die ʼn geldwa in sy persoonlike motor begelei toe ses aanvallers glo in twee of vier voertuie toegeslaan het. Hy is in sy voertuig die eerste keer in die rug geskiet waarna die voertuig tot stilstand gekom het. Die verdagtes het hom glo twee keer in die bors geskiet voordat hulle hom in een van hul motors in gedwing het.

Reed het Woensdag aan Maroela Media gesê dat dié skietery nie gebeur het toe die aanvallers op die geldwa toegeslaan het nie, maar toe hy probeer het hom hulle weg van die transitovoertuig af te lok.

Hy sê die wagte van die geldwa se vuurwapens wou om een of ander rede nié werk toe die aanvallers op die geldwa toesak nie. Hy het gevolglik weggejaag met die hoop dat die aanvallers hom sou volg en die geldwa sal agterlaat. Die aanvallers het hom toe agternagesit. Dit is toe dat die skietery plaasgevind het.

“Die polisieondersoek het later gewys dat daar 17 skote deur my motor op die dag geskiet is,” vertel Reed. Die aanvallers het hom nadat hy in hul voertuig ingeboender is, langs hul motor gesleep en later van ʼn brug afgegooi.

“Wat vir my erg is, is dat die aanvallers my naam geken het. Hulle het presies geweet wie ek is. Ek was ook nie veronderstel om die geldwa op die dag te begelei nie, maar is deur my lynhoof spesifiek opdrag gegee om dit te doen.”

Hy vertel verder dat daar normaalweg twee geldwaens is wat die spesifieke roete saam ry. “Hoekom was daar net een transitovoertuig op dié dag?”

Reed sê hy vermoed iemand moes inligting uitgelek het wat aanleiding tot die transitorooftog gegee het. “Die waarheid moet uitkom. Mense moet weet wat daar gebeur het.”

Hy het so baie vrae oor wat presies op 3 Mei 2018 gebeur het en wat daartoe aanleiding gegee het, maar het min hoop dat hy ooit antwoorde sal kry. “Ek bid net vir stilte en kalmte.  Ek dank die Here ek lewe en ek kan my vrou en kinders geniet. Dít is al wat my help deur die dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Die Verlore Skaap ·

Ek voel jammer vir die man wat in so n gemors land sy kinders moet grootmaak. Goeie mense soos hy en sy familie verdien n ordentlike land….

Al ·

Dit maak my woedend (magtelose woede) om te lees deur watter hel hy is.
Daar is soveel duisende onskuldige slagoffers wat aan hoë misdaad blootgestel word.
Die regering het sy greep op misdaad verloor, tog moet ons getrou ons belastingeld betaal.
Sterkte James Reed – hierdie trauma kan jou maak of breek. Ons het destyds vir jou gebid en ons sal jou weer in ons gebede opdra vir ñ mate van genesing binne.

Jean van der Riet ·

Sterkte James met jou toekoms en herstel pad , ek weet hoe dit voel met daai gewere in jou gesig !

HOBBO ·

James, jou vrae is geldig. Die antwoorde dalk onrusbarend. Jy is reg om met n sielkundige te beraad. Hy/sy is profesioneel genoeg om jou te lei na n berusting. Verder jou geloof in ons Here is al redding vir jou gemoed…….en tyd. Jy is n sterker man as daardie booswigte. Die Here sal met hulle handel. Sterkte!

Wie weet ·

So hoeveel geld gaan jy nou eis van die maatskapy
Klink vir my of jy geld hier uitsoek sterkte hoop jy voel beter

Zella ·

“So What” as hierdie man geld soek vanaf die maatskapy, daar moet inelkgeval iets wees soos “danger pay”. Dinge sal wel eendag vir julle as gesin begin sin maak. sterkte met die herstel proses!!

Wat ? ·

Sies man !
Tot so iets nie met jou of jou familie gebeur nie . Bly eerder stil !

Jean van der Riet ·

Jou denke is dalk reg , maar ek sou ook ” geclaim ” het in so n geval !

Magriet ·

Ek lees nêrens van geld soek nie. Wel geregtigheid soek, waarheid soek antwoorde soek.

Andrea ·

Hierdie ou is die slagoffer. Sy maatskappy het info gelek na kriminele wat hul bes probeer het om hom dood te maak. Hul verdien om aan die kaak gestel te word en hy verdien enige vergoeding wat moontlik na sy kant-toe kan kom. Sterkte, James.

Neilia ·

Was jy daar ? Nee jy was nie jy ken hulle nie , ek doen wel . Weet jy deur watse hel hulle is nee. Hulle is die mees opregste mense wat jy ooit sal ken. Dis my vriende ek hoop dit kom niemand wat jy ken ooit oor nie .

Elizabeth Teir ·

Ek hoop jy gaan dit reg kry om wat jou gedoen te leer om te verwerk. Jou lewe sal anders wees en jy aanvaar dit maar besluit jy gee nie jou lewe vir die vrot wat jou wou vermoor nie. Spandeer baie tyd in die natuur en om kalmte vir jou te skep. Sterkte.

Duifie ·

Al wat ek net wil sê elke hond kry sy dag. Sterkte vir jou en jou gesin.

Sies ·

Sies @Wie weet. Jou kommentaar is uiters SWAK. Het jy die berig gelees en besef hoe seer die man gekry het? Dis ‘n skande. En ja… hy verdien geld vir alles waardeur hy is en vir die res van sy lewe moet gaan!!!

santie ·

Leë blikke maak die grootste geraas “Wie Weet”. Die kans is glad nie uitgesluit dat jy ook in hierdie land geskiet kan word nie. James, ek hoop jy kan hierdie trauma verwerk. Tyd bring genesing. Ek sou die Company sue as ek jy was. Moenie jou lewe waag vir ander se geld nie – en dit nogal met jou eie voortuig nie. Ek ruik ‘n yslike rot in die gebeure van jou aanval…….

Sam ·

James, daar is slegs vir jou een pad na herstel. Hierdie beproewing in jou lewe kan tot jou ondergang of redding wees. Werk jou eie heil uit met vrees en bewing.

In jou kop en hart kan jy hierdie saak oorwin met die wete dat ons doel op hierdie aarde is om in ons Verlosser se voetspore te volg. (Fil. 2). Ons moet Sy weg wandel en dit was ‘n lydensweg (Jes.53). Geseënd is die man wat elke dag sy kruis opneem en Hom volg. Lees Hebr. 11:32-40, eintlik die hele hoofstuk as voorbeeld van gelowiges. Geloof is ‘n gawe (Ef. 2:8). Bid daarvoor!

Ons moet nie die mens of die wesens van die aarde vrees wat ons liggaam kan vernietig nie, maar slegs Hom wat die mag het om vlees en siel in die hel te laat verderwe. (Matt. 10:26-27). Ons moet besef dat ons tyd op aarde ‘n geesstryd is, nie ‘n vleesstryd nie.

Mag jou lydensweg een van oorwinning wees, mag jy jou paal opneem en Hom volg en eendag die woorde “Mooi so, getroue dienskneg, vir jou is weggelê die kroon van die lewe” hoor.

Genoeg ·

Wie Weet, hierdie kommentaar van jou is nou rêrig heeltemal oor boord. Mag jy nooit in Reed se situasie beland nie, want. Dan sal die instansie waarvoor jy werk geheel en al bankkrot wees. Eish!

Magaretha van heerden ·

James dit is skrikwekkend om te hoor wat jy deur is. My seun werk ook vir sekuriteit en al wat ons kan doen is om te bid en die Here te vertrou vir sy beskerming daagliks. Uit dit alles is dit duidelik dat die Here jou bewaar het en dat Hy n doel met jou lewe het.Vertrou Hom om dit aan jou te openbaar. Dit is n getuienis van Sy goedheid.

willem Botha ·

Dankie vir die opvolg ,waneer kan ons n opvolg kry oor die kfc 4,floyd shiwambo se aanranding van n fotograaf,malema se aanranding van die man by kfc in polokwane, die plaasmoordenaars wat lewenslank tronkstraf gekry het en hoe lank hulle regtig in aanhouding was,Shabir schaik wat terminaal siek was

HELEEN ·

James Reed, ons dink aan jou hoop regtig God help jou met ‘n voorspoedige herstel.
Die trauma wat jy beleef het, word niemand toegewens nie.Sterkte vir jou en jou gesin,
Onthou net God slaap nie ,Hy is in beheer

Al ·

Jy blah te veel! Pasop dat die dag wanneer jy sterf jou oë oop sal gaan en jy in Lalaland gewoon het op aarde.
Daar is ñ lewende God, glo my.
Ek glo nie aan wetenskapfiksie en sogenaamde aliens nie – maar in ñ ware Jesus Christus. Daarom vrees ek niemand nie.

Anoniem ·

Reed, wat my troos in situasies waar dit voel asof reg en geregtigheid nie geskied nie: die wraak kom God toe. Hoop hierdie gedagte kan ook iets vir jou beteken…

James ·

@WieWeet – jou onkunde val by jou mond uit. Bly liefs stil

Marti ·

Baie Sterkte James, gelukkig ken ons jou. Ons het saam groot geword en skool gegaan. Ons weet teminste wie en wat jy is. Jy sal jou medemens in nood help. Bly eerder stil as jy nie iemand persoonlik ken nie. James is n goeie Mens en Pa vir sy kinders. Weet dis nie maklik vir jou elke dag nie. Ons bid vir jou en mag die Here elke dag saam jou stap tree vir tree. Ons weet dis n langpad na herstel, weet jy het mense wat vir jou Omgee James. Pas jou mooi op en hou moed. Groete Marti (Smirre)

Marinda ·

Sterkte James, bid dat jy gou ten volle sal herstel. Glo en vertrou net in jouself en op God.

Hierdie tipe werk sit nie in enige een se broek nie.

Wie weet, jy het geen idee waarvan jy praat nie.

Klink vir my of hier goed nie lekker is nie. Goed wat ek ook sal oor wonder.

Gaan luister bietjie na op RSG se Potgooi na die dokumenter: Die wortel van alle kwaad.

Guve ·

Sterkte, Bid vi jul gesin, die letsels kan nog weggaan, maar die angsaanvalle, bangwees,oor jou skouer loer, maak jou so moeg, jy is verseker n held.

Se net ·

James weet presies hoe jy voel, was in Nov 2000 ook in rooftog betrokke, is 1 keer deur nek geskiet en ander patroon deur my skouer, het by die dood omgedraai en glo my was ok vir berading wat nie gehelp het nie want jy kan daaroor praat tot jy blou is, geen mens kan wat met jou gebeur het, daardie prentjie uit jou kop haal nie, kry tot vandag toe nagmerries en die needles en pins wat jy het, ek het beleef dit tot vandag toe in my regte arm en niemand kan my eens op die arm tik nie dan voel ek die pins tot in my vingerpunte . Sterkte vir jou, dink en bid ook vir jou en jou familie

Al ·

Sterkte aan al julle wat helde is, wat oorleef het. Dis ñ gevaarlike werk en jul verlig die druk van die polisie.
Sekuriteitsmaatskappye en hul werknemers behoort vergoed te word deur regering.

Katerina ·

James, ek self is nog nie op so n moorddadige wyse aangeval nie. Maar ek het maar n brutale lewe gehad, vreeslik mishandel as kind, uiters baie trauma deur my lewe vir dekades weens depressie so erg dat dit gegrens het aan waansinnigheid.

Ek was prooi vir gewetenlose mans as gevolg van my minderwaardigheids kompleks en depressie, ek was prooi van my eie self destruktiewe lewenswyse omdat ek eintlik nie Wou lewe hier op hierdie planeet nie. I was since childhood, and for decades afterwards, mentally, spiritually and emotionally absolutely Crippled.

Toe in 2012, in n baie kort tydjie het alles begin verander, in my psige en lewensuitkyk. Daar was nog moeilike tye maar ek het net eenvoudig besluit ek gaan nie meer toelaat dat die verlede my hede en toekoms bederf nie. Ek lewe vir die oomblik, vir Vandag – want in hierdie land is mens se more nie verseker nie. Ek vind dinge om te geniet in elke dag, ek en my seun giggel en lag elke dag saam oor dinge wat hy vind op die internet. Ek maak lekker kos meeste aande, ek drink n lekker wyntjie, ek maak kuns, ek gesels met kunstenaars van ander lande aanlyn, ek hou diere aan wat baie liefde en lag bring etc etc.

As ek jou raad kan gee – Leef vir Vandag.

Ronel ·

Nou wonder ek of die direkte lynbestuurder dalk ietsie meer geweet het? Mag jy gou rus en vrede in jou gemoed vind is my gebede vir jou. Baie sterkte

Marthie Armstrong ·

Ek hoop jy kry soveel skadevergoeding dat jy in staat sal wees om te emigreer. Jy sal weer mens voel as jy sonder vrees jou daaglikse gang kan gaan en rustig kan gaan slaap.

Iemand ·

Jy kom nie regtig oor so iets nie. Einde 2015 is ek en my ouers amper gekaap terwyl ek bestuur het. ‘n ak-47 is op my gerig en ek het skote gehoor, darm is ons en die kar nie getref nie, maar dinge kon so maklik anders uitgedraai het. Ek kry nou nog nagmerries en weier om self langafstande in die land te ry. Eks altyd angstig en bang. ‘n jaar terug is my pa oorlede aan ‘n hartaanval in sy slaap, die amper kaping en ‘n plaas aanval in 2014 hier in ons huis glo ek het hom na ‘n vroer dood gelei. Mens kannie so leef nie. Eks maar net 27…

Mellie ·

Ek vra maar net: hoe word mens in so verantwoordelike posisie geplaas om n geldtrok te begelei in jou privaat voertuig sonder n wapen of koeëlvaste baadjie?

Neilia ·

Kom ek vertel julle gou iets , hierdie mense sal nie n siel leed aan doen nie , weet julle hoeveel mense hulle al gehelp het ? My inkluis , hulle was daar toe dit beroerd gegaan het en hulle is nogsteeds daar. Sy vrou my vriendin staan hom deur duk en din by al is sy ook moeg, James het n hart van goud en sal almal help, sy kinders die mooiste maniere . So ja ek hoop hulle kry wat hulle toekom, sal eerder nie uitbrei oor hoe die company hom bedank het nie . Maar die mense wil julle ken . Ek sal oor en oor hulle vriende wou wees. Want nerens kry jy meer hulle goeie soort.

Essa ·

James, vrede, kalmte, stilte en ewewig vir jou toegewens. Mag jy antwoorde en oplossings vind. Gee jouself tyd en bly hoop dat jy die ou James sal terugvind. Beste wense.

Jess ·

Ai James so jammer vir jou. Ergste skok vir my was toe jou sekuriteits maatskappy jou R1000 gegee het en papier vir bravery. Dis swak!!!!!! Sterkte aan Jul, Jul sulke goeie mense.

Bekommerde ·

Onrusbarend om te hoor wat alles gebeur het – van dat die wagte se wapens nie gewerk het nie asook dat hy nie einlik daar moes gewees het nie – te veel toeval.
Die gevolge van alles, is baie erg – sterkte – hou aan met hulp kry – as mens so na alles kyk – is dit ‘n wonderwerk dat hy leef !

GM ·

@ Wie weet – Hier deel iemand hul pyn met die wêreld, en mens kan heel duidelik sien dat die man swaartrek -wie sou nie na so iets met hul gebeur het nie? En al wat jy kan uitdink is, die man soek geld. Nêrens lees die res van ons dit nie, net jy doen. Is dit so moeilik om menslik te probeer optree? Sou jy dieselfde kommentaar gelewer het as dit jou pa, ma, broer of suster was wat so aangeval was?

Ena Small ·

My kind werk in sekuriteit en elke dag is hel…hulle gaan in in daardie situasies…en ons kan maar net die bloed van ons Here oor hulle pleit.
Onthou…die aanvallers is genadeloos en ons mense is oop teikens.
Dis n hartseer dag as jy ju lewe op sievspel plaas om net vir jou gesin te kan sorg.
Mag God elke moordenaar en skelm in sy pad stop. Ek bid dit in die naam van Jesus…amen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.