Man praat ná kleinhoewe-aanval: ‘Ek het net begin bid’

Robbie Feldman vertel sy storie aan Lindie Strydom van GrootFM. Foto: Christine Henrico (Met vergunning van GrootFM)

“Ek het soveel keer in die koerant en op Facebook van die plaasaanvalle gelees, mense wat dood is of mense wat baie seergekry het. En dan maak ʼn mens maar die koerant of webblad toe en sê vir mekaar, waar gaan hierdie dinge eindig? Maar eers die dag as dit met jou gebeur en jy self daardeur gaan, dan besef jy wat dit werklik is en wat die ander mense ook moes deurgegaan het.”

Só sê Robbie Feldman (56) ʼn maand nadat hy en sy gesin ʼn aanval op ʼn kleinhoewe in die Hartbeeshoek-omgewing in De Wildt, Gauteng, oorleef het. Dit was ʼn lang pad tot hier, sê Feldman, en hulle het nog ʼn lang pad om te gaan. Maar een ding weet hy vir seker en dit is dat hy hierdie getuienis moet deel om ander van God se genade en beskerming te vertel.

Feldman het openhartig met Lindie Strydom gesels as deel van GrootFM se #JouMenseMyMense-veldtog en haar vertel van die nagmerrie-gebeure die oggend van 11 Oktober.

Robbie Feldman vertel sy storie aan Lindie Strydom van GrootFM. Foto: Christine Henrico (Met vergunning van GrootFM)

Feldman, sy vrou, Hester (52), en hul seun, Frikkie (16), het geslaap toe hulle deur vier gewapende mans oorval is. Die aanvallers was met ʼn breekyster en vuurwapen gewapen. ʼn Stoeiery het ontstaan en een van die aanvallers is in die bors gewond. Hy is op die toneel dood.

Intussen het Feldman ernstige beserings aan veral sy gesig en kop opgedoen. Daar sou later in die hospitaal vasgestel word hy het skedelbreuk en sy een oor is amper heeltemal afgeskeur.

Hester en Frikkie is met skoenveters vasgebind en herhaaldelik geskop en geslaan. Die aanvallers het die huis geplunder en toe te voet gevlug met onder meer skootrekenaars, selfone en Robbie se pensioengeld wat uitbetaal is nadat hy onlangs afgelê is.

Feldman kan nie veel van die aanval onthou nie. Hy sê dit wat hy van die gebeure weet, is wat hy agterna in die media gelees het of wat mense wat op die toneel was hom vertel het. Hy onthou wel toe hy bygekom het terwyl hy op die vloer gelê het nadat hy deur die aanvallers aangerand is.

Robbie Feldman kort na die aanval. Foto: Verskaf (GrootFM)

“Ek het eers gedink ek droom, maar toe voel ek, ek het baie seer. Ek het net so deur die skrefies van my oë gesien hoe mense om my beweeg, hoe hulle die huis plunder, laaie oopruk en aangaan. En daar het ek net begin bid. Ek het net aanhoudend gebid en nie opgehou nie,” vertel hy.

“Ek het die Here gevra om hierdie mense se gedagtes te verander. Dat Hy sy engele sal stuur om ons te beskerm. Dat Hy ons uit hierdie omstandighede sal red, dat ons sal oorleef. As so iets gebeur, is dit asof die dood jou in die gesig staar … want jy weet hierdie mense het gekom om jou dood te maak.”

Nadat die aanvallers gevlug het, moes die Feldman-gesin magteloos wag op hulp aangesien hul selfone gesteel en hul radiostelsel se battery ontkoppel is. Eers toe een van die huurders op die kleinhoewe omstreeks 04:00 van nagskof teruggekeer het, is hulp ontbied en Feldman na ʼn hospitaal gehaas.

Robbie Feldman vertel sy storie aan Lindie Strydom van GrootFM. Foto: Christine Henrico (Met vergunning van GrootFM)

Feldman sê hy kry steeds elke dag hoofpyn ná die aanval en sukkel om te slaap in die nag. Boonop kry die gesin ook finansieel nóg swaarder ná die aanval.

Maar by Feldman is daar nie ʼn sweempie bitterheid te bespeur nie. “Die Here sê nooit daar gaan nie dinge oor jou pad kom nie, daar gaan nie [slegte] omstandighede of storms op jou pad wees nie. Maar [Hy sê] as jy in My glo en jy is my kind en daar is ʼn storm oor jou pad en jy roep My aan, sal Ek daar wees en jou red. En dit is wat Hy daardie dag vir ons gedoen het.”

Luister na die volledige onderhoud met Feldman hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Maddy ·

Dit kan nie maklik wees om oor aulke gebeure te praat nie, maar die wêreld moet weet. Dankie Frikkie dat jy so braaf is on jou storie te vertel. Ek hoop en bid vir julle familie.

Willa ·

Baie dankie, Robbie, vir jou mooi getuienis! Dit is so mooi gestel….

zoom zoom ·

Na sekere partye die grond plunder wet Na JA toe gaan verander gaan die tipe aanvalle verhoog
Die land is in die gemors

TLC ·

Frikkie en familie
Vir julle wens ek net die beste toe vir die toekoms
So bly julle leef almal
Die seer pad na herstel sal goed gaan met jou geloof en veral omdat jy so spesiaal is dad GOD jou gebed gehoor gegee het Amen
Want ja hul was nie daar vir tee en koekies nie
Aan die gemors GOD kom vir julle dalk nie vandag of more nie
GOD slaap nie AMEN

Lollie ·

Ek glo ook jou pad sal nie net altyd maanskyn en rose wees nie. Daar moet moeilike dinge gebeur sodat jy nie van God vergeet nie. Sterkte vir hierdie gesin en die baie ander wat ook deur sulke dinge is. Wonder hoeveel van ons gaan op die ou end binne stukkend wees agv hierdie haat wat net nie end kry nie!

Piet ·

Presies Lollie, God laat dit toe, want ons sal geen keuse he om Sy Naam aan te roep nie. Baie mense wat instette lewer vra gewoonlik, “waarom”! Sy skape het geweet van beter maar wou Sy Naam nie aanroep nie. Ons sal dit moet doen anders sal dinge nog baie erger word. Daar is wereld wyd ‘n aanslag op die Christendom. Hou op om te se as hierdie paty dit se of daardie persoon dat doen sal plaasaanvalle toeneem. As mens nie die duiwel gaan verdryf nie sal plaasaanvalle toeneem! Laat ons geskiedenis maak, wanneer ons ons gelofte aan God nakom op die 16de Desember!

Johann M van Heerden ·

My hart gaan uit na die mense en mens vrees vir jou eie familie se veiligheid. Wat gaan en kan ons doen Die deure is oopgegooi en die sleutels en bewapening is aan die vyand oorgedra. Ons sal eenvoudig moet begin organiseer en saamstaan. Ons en ons alleen is vir ons eie toekoms verantwoordelik. Kan iemand dalk opstaan en die leiding neem?

Genoeg gehad ·

Terwyl ek luister rol die trane. Skielik kom die Bloedrivier geskiedenis by my op. Mense ons moet bid. Dis AL wat ons gaan red is geloof. Net EEN Boer was gewond by bloedrivier. Duisende aanvallers dood en die rivier bloedrooi. As ons saamstaan en soos een bid KAN hierdie land gered word van hierdie bose mense. Here help ons asb hierdeur.

Jerry de Ru ·

Johann M van Heerden ons deel presies dieselfde gevoelens en waar daar ‘n wil is,is daar ‘n weg. Ek dink dat ons in ons eie vriende – en familiekring moet bymekaar kom en begin beplan om ons self te verdedig teen die aanslae wat willens en wetens teen ons uitgevoer word. Dit sal gou genoeg uitkring tot vergaderings op ‘n groter skaal waar daar weldra iemand sal opstaan wat die leiding kan neem. Die geheim is om nou te beweeg en te bewys dat die Afrikaner nie net alles teen hom gelate gaan aanvaar nie. Ons voorouers het die wêreld verstom en ons kan dit weer doen. Gaan kyk weer na ons geskiedenis !!

Jennifer ·

Ons is so dun versprei, die enigste manier is vir ALLE blankes om ons getalle te konsentreer.
Probleem is amper niemand stel belang of kan bekostig om oor te begin elders anders. Ek dink alles gaan maar net so aan gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.