Man probeer winkel met speelgoedgeweer roof

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

’n 33-jarige man is Woensdag in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat hy probeer het om ’n winkel met ’n speelgoedgeweer te beroof.

Volgens sers. Majola Nkohli, het die man hom aanvanklik as ’n klant voorgedoen deur sigarette by dié winkel in Jeffreysstraat te koop. Hy wou nie bekendmaak watter winkel dit is nie.

“Die man het die winkel egter oomblikke later met ’n vuurwapen binnegestorm wat hy op die winkeleienaar gerig het. Die winkeleienaar het opgemerk dat die verdagte die sneller trek, maar dat geen skote afgevuur word nie. Hy het gevolglik besluit om terug te veg.”

Nkohli sê ’n struweling het tussen die twee ontstaan, waarna die verdagte met behulp van ’n sekerheidswag in hegtenis geneem is.

“Die verdagte sal na verwagting Woensdag in die Humansdorp-landdroshof op aanklagte van poging tot sakeroof verskyn.”

Nóg ’n winkelroof is in dié provinsie gefnuik, nadat drie vermeende rowers Sondag deur ’n polisiebeampte geskiet en gewond is. Die polisieman wat nie aan diens was ten tye van die voorval nie, is ook gewond. Volgens Nkohli het drie gewapende verdagtes op ’n winkel in Dukastraat op Addo toegeslaan en geld en selfone gesteel. “’n Polisiebeampte wat van diens af en toevallig naby die toneel was, het die voorval gesien en ingegryp. ’n Oor-en-weer-skietery het uitgebreek en een van die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem.”

Nkohli sê die polisie het op ’n 9 mm-pistool en patrone beslag gelê.

Hoewel die ander verdagtes aanvanklik gevlug het, het die polisie Maandag ’n oproep van die Kirkwood-hospitaal ontvang oor twee persone met skietwonde wat daar opgeneem is.

“Die mans, onderskeidelik 22 en 24 jaar oud, is met die winkelroof verbind en in hegtenis geneem.”

Volgens Nkohli sal al drie verdagtes sowel as ’n vierde verdagte eersdaags in die Addo-landdroshof op aanklagte van sakeroof verskyn. “Nog aanklagte word ondersoek.”

Kol. Simon Swarts van die polisie se eenheid vir openbare orde in Gqeberha (Port Elizabeth), het die polisiebeampte vir sy heldedaad geloof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JM ·

Elke tweede misdadiger besit ‘n vuurwapen, maar wetsgehoorsame burgers word verbied om vuurwapens vir selfverdediging aan te hou. Absurd!

Helgard ·

Solank hy dit doen terwyl hy nog gedink dit was regte geweer en sy lewe is ingevaar val dit onder wettiglike privaat verdediging.

Die reel gaan ook anderkant toe, die rower kan en moet aangekla word van rig van vuurwapen aangesien hy gemaak het asof dit regte vuurwapen is.

ES ·

Marius, die eienaar sou in sy volste reg gewees het om te skiet. Al 3 elemente is teenwoordig in die situasie: Dis ‘n onwettig aksie, dis dreigend en stel jou lewe in onmiddelike gevaar. Die wet op vuurwapenbeheer is baie duidelik in die opsig.

piper ·

ek het n besigheid gehad in die kleinhandel en geweier om speel wapens aan te hoe en te verkoop. die gemeenskap het dit waardeer en my altyd goed ondersteun. speelgoed wapens behoord verban te word.

ES ·

Piper. ek stem saam met jou. Hulle maak deesdae se speelgoedgewere so realisties. Ek kan nie my CO2 pellet pistool onderskei van my gelisensieerde 9mm pistool wat dieselfde lyk nie.

Persheks Adri ·

Dis ‘n dom ding om te doen met ‘n speelgoed geweer!!!

Nog ‘n ongelisensieerde wapen en ammunisie!

Bekkie hoed jy gaan ons NIE ontwapen NIE vergeet dit sommer vinnig

Elinette ·

Dis eintlik oud – hulle begin gewoonlik al hier op 14 jaar, wanneer hulle die eerste keer tik rook.

boerie ·

Dit wil voorkom asof dit n heldedaad is wanneer jy jou werk doen in hierdie land.

Boer ·

En dit is net daar waar daai man by my n paar tande gaan verloor.

VaalDonkie ·

Die lekkerste deel is dat volgens die wet word jy dieselfde aangekla of jy nou ‘n regte geweer gebruik, of ‘n speelding. Laat hy maar voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.