Man red vriend uit krokodil se kake

Mercia du Plessis by Gerhard Daffue in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

’n Luilekker Vrydagmiddag langs die viswater het byna in ’n nagmerrie ontaard toe ’n krokodil ’n man van Pretoria onverwags in die water by die Rust de Winter-dam, noordoos van die stad, gegryp het.

Bertie Fick (40) se vriend, Gerhard Daffue, het egter kopgehou en sy hande rou baklei om Fick uit die krokodil se kake te red waarna hy met ’n ernstig beseerde Fick na ’n hospitaal gehaas het.

Albei ondergaan sedertdien rekonstruktiewe chirurgie vir die beserings wat hulle in die voorval opgedoen het.

Mercia du Plessis, Fick se suster, het gesê die twee het beplan om Vrydagmiddag te gaan visvang en sou daarna weer huiswaarts keer.

“Hulle het nét daar aangekom. Gerhard het nog sy aas aan sy visstok gesit en Bertie het tot omtrent by sy bolyf in die water geloop om sy visstok in te sit. Gerhard het net “ouch” gehoor en toe die krokodil se bek om Bertie se lyf gesien.”

Daffue het sonder om te skroom die water ingehardloop en die krokodil se kake probeer oopdwing terwyl die krokodil met albei gestruwel het. Daffue het die krokodil vermoedelik bygedam en kon Fick uit die dier se kake bevry.

Hy het Fick weg van die krokodil gestoot en sy vriend uit die water gehelp.

Bertie Fick (Foto: Facebook)

Fick het vermoedelik sy bewussyn verloor.

Du Plessis vertel Daffue het aanvanklik net baie bloed gesien en daarna eers die wond aan Fick se been. Hy het sy hemp uitgetrek en dit om die wond gedraai. Fick het ook baie ernstige wonde aan sy maag en rug opgedoen.

Daffue het Fick in ’n kombers toegedraai, in die motor gelaai en na die hek gery waar hy ’n veiligheidswag gevra het om saam met hom na ’n hospitaal in Bela-Bela te jaag sodat dié ’n oog oor Fick kon help hou.

Fick is in die hospitaal gestabiliseer voordat hy per ambulans na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.

Daffue se hande is ernstig beseer en dokters het aanvanklik vermoed dat sy linkerhand se middelvinger geamputeer sou moes word. Dit blyk egter dat die vinger moontlik deur rekonstruktiewe chirurgie gered kan word.

Hy sal moontlik nog ’n week lank in die hospitaal moet aansterk.

Vir Fick lê daar egter nog twee weke in die waakeenheid van die hospitaal voor.

“Die dokters sê dit is ’n wonderwerk dat hulle albei leef. Gerhard is ’n real life hero. Hy was bereid om sy lewe vir my boetie op te offer,” sê Du Plessis.

“My boetie sê hy het soos ’n pop in die krokodil se bek gevoel.”

Volgens Du Plessis is daar geen waarskuwingsborde langs die dam om mense teen krokodille te waarsku nie, maar slegs ’n enkele klein waarskuwingsbord by die ingang.

“Daar is kinders wat langs daardie dam speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Niklaas ·

Dis nou een dapper man daardie. Nie vrek baie ander ouens sou dieselfde opgetree het nie.

Juffrou ·

Sjoe wat ń riller verhaal. Dankie vir só ń vriend. Beterskap aan albei.

Buks ·

Daar is n groot bord by die ingang wat waarsku teen krokodille en seekoeie in die dam mense steur hulle nie aan die waarskuwings nie ek het al self n hele paar kere krokodille in die dam gesien veral as mens met n flitslig op die dam skyn na donker.

Isebel ·

Ek stem niemand stel belang om reels te volg nie, daar is n bord op lees en hou by die reels

Adam Adriaan ·

“n Plat hond is nie ‘n man se maat nie. waarskuwings moet altyd in gedagte gehou word en dienoor eenkomstig moet daar ge handel word. veral die tyd van die jaar. Dit is die tyd wat hulle wei en ‘n mens is op sy voorkeur spyskaart.

Lila ·

Sjoe, jy Mnr Fick het ‘n wonderlike vriend!!! Julle is albei Baie gelukkig, sterkte met die aansterk proses, wens julle albei net gesondheid toe!

johanf ·

Goed gedoen Mnr Daffue, jy is ń held….. Hoop jy en Mnr Fick sterk gou aan.

Mudguard ·

Daai krokodil sal my dadelik uitspoeg. Ek sal skielik nie lekker ruik en smaak nie!

Chris ·

Ek kan nie anders as om die man wat sy vriend te hulp gesnel het geluk wens nie. Hy is voorwaar ‘n held. Die ou wat deur die krokodil gevat is kan ek slegs vra wat het jy gedink doen jy? Kan jy nie lees nie of dink jy die kennisgewings is vir die blindes opgerig. Dit was uiters dom van jou. Jy kan bly wees jy het so goeie vriend. Ek het self al in riviere geswem oa die Kavangorivier. As ek nou daaraan dink sidder ek en my maag trek op ‘n knop. Dit is plein onnosel. Jy skuld jou vriend groot ou maat.

Alexander ·

Welgedaan aan hierdie dapper man. Ek neem aan hy het met ‘n knewel gestoei. Ek het al van vele noue ontkomings by hierdie dam gehoor. Steeds te veel gevra vir Natuurbewring om waarskuwingsborde op te sit. Fondse seker ook hamer en sekel gesnoei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.