Man red vriend, verdrink self in dam

Argieffoto

’n Jong man (22) het Saterdag verdrink nadat hy sy vriend van verdrinking in ’n dam in die omgewing van Uitenhage in die Oos-Kaap gered het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê Lewellan van Rooyen het tussen 11:00 en 13:15 saam met ’n 16-jarige vriend in ’n dam in Lapland naby Kamesh geswem toe albei begin moeg word het.

“Die tiener het om hulp geskree en Van Rooyen het hom na veiligheid gebring. Toe die tiener omdraai, het hy sy vriend onder die water sien verdwyn.”

Hulp is ontbied en Van Rooyen se liggaam is later deur polisieduikers uit die water gebring.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Naidu doen ’n beroep op mense om geensins in riviere of damme te swem nie aangesien dit gevaarlik is, veral vir diegene wat nie sterk swemmers is nie.

“’n Toename in die aantal verdrinkings is opgemerk. Kinders en tieners gaan strand toe en swem in gebiede waar daar geen lewensredders is nie. Die meeste slagoffers wat verdrink het, kon nie swem nie en daar was geen toesig van volwassenes op die strande of damme nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Mens kan jou lelik misgis met afstand. Baie jare terug het ek en my neef eendag na ‘n rots geswem wat ons gereken het nie verder as sowat 30m van die strand af kan wees nie. Uiteindelik het daai “30 m” maklik 200 m + meter geword en het ons dit amper nie gemaak nie. Gelukkig kon ons op die rots staan en uitrus voor ons kon terugswem (teen ‘n meer gemaklike pas). Lewensgevaarlik, veral in die see as jy nie die toestande ken nie. Oor die algemeen raai ek nie enige gewone swemmer aan om in die see te swem nie, dis moeilikheid soek.

Skyspy007 ·

Piet, veral as jy 7 Nm (Nautical Mile) vanaf die strand met ‘n vliegtuig in die water moes land nie…vra my…EK WAS DAAR, die loods en moes dit doen. Ek lewe nog….baie dankbaar daarvoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.