Man red vriendin uit krok se kake

Lana Steyn kort voor sy deur ‘n krokodil gegryp is. Foto: Verskaf

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is grafies van aard en mag sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Soos ʼn wafferse Crocodile Dundee het Mike van der Merwe (60) sy vriendin, Lana Steyn (60), van ʼn gewisse dood gered nadat sy tydens ʼn uitstappie langs die Limpoporivier deur ʼn krokodil gegryp is.

Van der Merwe, ʼn voormalige veldwagter wat nou ʼn toergids en inwoner van Polokwane is, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy en Steyn, ʼn onderwyseres by Akademie Reformia in Polokwane, het verlede week naby Pontdrif naby die grens met Botswana gaan kamp.

“Ons het Donderdag besluit om op ʼn uitstappie na die rivieroewer te gaan om piekniek te hou, voëltjies te kyk en vissietjies te vang,” het Van der Merwe vertel.

Hulle sou tot Sondag daar gekamp het, maar die uitstappie is kortgeknip toe ʼn krokodil, van sowat twee en ʼn half meter, Steyn aan haar hand gegryp en in die rivier in getrek het.

“Lana het pas ʼn klein vissie gevang. Ek het nog ʼn foto van haar en die vissie geneem en vir haar gesê om die vis terug in die rivier te gooi. Sy het gebuk om die vis terug te gooi en was halfpad besig om op te staan toe die krokodil skielik uit die water spring en haar aan haar linkerhand gegryp het.”

Van der Merwe het gesê sy jare lange ondervinding as veldwagter het dadelik ingeskop en hy het op die ingewing van die oomblik besluit om die krokodil te takel.

“Ons was so ʼn halwe meter van die oewer van die rivier op die skuinste van ʼn wal. Ek het net dadelik besef ons moet keer dat die krokodil vir Lana in die water in sleep. Op ʼn manier het ons in die water beland, maar ek het nie geweet hoe diep die water was nie. God dank, kon ek die bodem van die rivier voel en vastrapplek kry.”

Mike van der Merwe. Foto: Verskaf

Van der Merwe verduidelik hy het die reptiel eers aan die agterbene beetgehad en nadat hy kon staan, het hy die krokodil, “wat ʼn man en half weeg”, opgelig tot sy bek voor Van der Merwe se gesig was. Hy het toe sy vinger in die krokodil se oog gedruk en “tjoep, daar laat gaan hy die hand, soos iemand wat ʼn tandestokkie uitspoeg en doef, daar verdwyn hy terug in die water”.

Van der Merwe het Steyn uit die water gedruk en homself ook vinnig uit die water gekry. Hy het gesê hy kon sien haar hand is erg vermink en haar duim, wys-, middel- en ʼn gedeelte van haar ringvinger hang aan flarde.

Hy het skoon water oor haar bebloede hand gegooi, dit styf toegedraai en die nagenoeg 200 km terug na Polokwane gejaag.

“Op pad hospitaal toe het sy gesê dit is seer, maar sy het wonderbaarlik nooit gekla nie. Sy het net gespook om al die pad wakker bly. Sy was ʼn yster en het nooit gehuil of eers gesnik nie. My grootste bekommernis was om haar by ʼn goeie hospitaal te kry, want sy het nie ʼn mediese fonds nie.”

Van der Merwe het gesê hy het besluit om haar in die Mediclinic Polokwane te laat opneem en hy en Steyn se familie en vriendekring het onder mekaar genoeg geld bymekaar geskraap om haar daar te laat behandel.

“Die hospitaal was wonderlik van begin tot einde en het regtig goed gehelp. Haar linkerhand is aan haar lies vasgewerk en moet vir nog drie weke so wees sodat daar vel kan groei.”

Hy het gesê Steyn is reeds Maandag ontslaan, maar die pad na herstel is nog lank.

Steyn sal nog verskeie rekonstruktiewe operasies moet ondergaan en hoewel sy reeds uit die hospitaal ontslaan is, verwag Steyn se geliefdes nog “ʼn golf” van mediese rekeninge.

Steyn se werkplek het gehelp om trust, wat deur ʼn prokureursfirma bedryf word, op die been te bring in ʼn poging om haar mediese onkostes te verlig. Mense wat ʼn bydrae wil maak, kan meer besonderhede hier kry.

“Sy is tans in ʼn goeie luim en ons maak selfs krokodilgrappies soos, see you later aligator, after a while crocodile,” het ʼn Van der Merwe geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

linda ·

Dankie vir die brokkie goeie nuus, iemand het die dag oorleef en ‘n croc het ‘n fight verloor
hoop sy draf al daai operasies sommer gou gou deur!
baie sterkte
saam julle bly sy’t oorleef!

Haan ·

Die berig sê” Mike van Heerden” en die foto onderskrif sê “Mike van der Merwe”

Groete
Haan
nmns. Homself ;)

Tania Heyns ·

Dagsê Haan

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Tania Heyns ·

Dagsê Claudie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Tania Heyns ·

Dagsê AnnaM

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Tania Heyns ·

Dagsê Lynne

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Tania Heyns ·

Dagsê Leeutjie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Marlene ·

Goeie genade! Wat ‘n storie van totale braafheid!
Well done, julle is wraggies twee sterk mense!

Denise ·

Kan mense nie sien van die eerste kommentaar die berig is gewysig nie ai. :)…………
Sterkte Lana Steyn ons gebede is met jou. Glo jy gaan vining herstel

BB ·

Moet almal so fout find met die berig. Nie eers goeie nuus kan mense gelukkig maak nie.
Baie bly vir die twee wat dit kon oorleef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.