Man red vrou (71) uit kapingsnagmerrie

Argieffoto

ʼn Oud-weermaglid en Pretoria-inwoner het Vrydag tegnologie en sy vriendekring ingespan om sy 71-jarige vrou uit kapers se kloue te red.

Alan Holloway (64), wat saam met sy vrou, Sue (71), al nagenoeg 40 jaar in Pretoria woon, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die beproewing het omstreeks 13:30 begin.

Sue, ʼn joga-instrukteur, het van die egpaar se huis in Waterkloofrif na haar twee kleinseuns, onderskeidelik 15 en 17 jaar oud, se skool in Doringkloof, Centurion, gery om hulle ná skool te gaan oplaai.

“Sy het langs die pad by die skool in haar BMW vir ons kleinseuns gewag. Die BMW se deure was gesluit. Skielik het vier verdagtes op haar voertuig toegesak. Drie het by haar deur gestaan en ʼn vuurwapen op haar gerig en een man was aan die ander kant van die voertuig. Sy het vinnig probeer om die motor aan te skakel, maar dit was net dood. Een kaper het geskreeu: ‘I’m jamming you, I’m jamming you,’” het Holloway gesê.

Volgens Holloway wou die motor glo weens die blokkeringstoestel nie aanskakel sodat Sue kon weg ry nie. Die aanvallers kon daarin slaag om die bestuurdersdeur oop te kry waarna hulle Sue in die agterkant van die motor ingedwing het. Twee verdagtes het by haar ingeklim en haar met hul voete plat gedruk voor al vier verdagtes in Sue se BMW op die vlug geslaan het.

“Êrens het die kapers stilgehou en Sue in ʼn wit voertuig ingeboender. Een van die kapers het die BMW bestuur en drie is saam met Sue in die wit voertuig weg.”

Die skool het intussen vir Holloway so tien minute ná die voorval gebel en daarvan vertel. Holloway het sy iPhone gebruik wat met Sue se foon gekoppel is. Sy het ook ʼn opsporingstoestel in haar motor wat deur Holloway se foon sigbaar is.

Holloway kon sien sy vrou se voertuig was in Mamelodi en hy het dadelik sy vuurwapen gegryp, in sy Jeep gespring en die sein gevolg. Op pad daarheen het hy twee vriende met sterk bande in veiligheidsstrukture van die kaping in kennis gestel en hulle het verder hulp ontbied en laat weet hulle is op pad.

“Intussen het my kleinseuns die heeltyd hul ouma gebel en die kapers het naderhand haar foon afgeskakel en ek kon nie meer die sein volg nie. Ek het egter gery tot die laaste plek waar ek die sein gesien het en toe ek in Mamelodi Uitbreiding 3 kom, het ek haar motor opgemerk. Daar was net een insittende en ek was bang my vrou was in die kattebak, anders sou ek die voertuig met my Jeep gestamp het. Ek het die BMW agterna gesit, maar dit was te vinnig vir my Jeep om by te bly en die bestuurder kon wegkom.”

Holloway het gesê intussen het die drie mans in die wit motor gemaak asof hulle hom wou help deur hom in ʼn straat in te beduie, in ʼn poging om hom net op ʼn dwaalspoor en weg van die BMW te lei.

“In ʼn stadium het ek albei voertuie uit sig verloor en is ek terug na die plek waar ek vir die laaste keer die sein kon sien. Kort daarna was daar nagenoeg 50 polisiebeamptes en veiligheidspersoneel om my.”

Holloway het gesê dit was teen daardie tyd presies 15:15 en hy het begin om moed te verloor toe hy ʼn oproep van ʼn vreemde nommer ontvang wat hom ingelig het sy vrou is gekry.

“Dinge het te warm vir die kapers geword. Hulle het al Sue se besittings, waaronder haar handsak met beursie en bankkaarte, selfoon, ringe en skoene gevat, haar hande vasgebind en haar in ʼn veld afgelaai. Edwin Chauke, ʼn polisiebeampte wat nie aan diens was nie, het haar daar gedisoriënteerd in die veld sien loop en stilgehou om haar by te staan.”

Die Holloway-egpaar is daarna na die Lyttelton-polisiestasie waar hulle die voorval aangemeld het. Sue was teen 17:30 weer terug by die huis. Sy was getraumatiseerd en vol blou kolle. Volgens Holloway sterk sy vinnig aan.

“Die motor is nog nie teruggekry nie, maar die ergste is die administratiewe nagmerrie om haar ID-dokument, bestuurderslisensie en bankkaarte te vervang,” het hy gefrustreerd gesê.

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die Lyttelton-polisie, het aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van kaping.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die soektog duur voort en talle leidrade word opgevolg,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

White Rhino ·

Dankie tog die vrou is veilig!!
Ry eerder ‘n tjorretjie met ‘n goeie enjin- die kapers stel nie daarin belang nie.

Gavin ·

Baie braaf lafharte, dit vat 4 lafharte om ñ 71 jarige vrou te kaap. Tipies van die lafharte hulle Kannie 1 op 1 iemand aanvat nie. Pateties, Dis al wat n mens hulle Kan noem. Dank die Here at is veilig by die Huis.

Peeter ·

Mens weet iets gebeur is SA wanneer die gevoel “die érgste is om bank kaarte ens te vervang” en nie die trauma van die kaping nie. Dit en by huisroof “gelukkig haar nie verkrag nie” SA, dis belaglik.

PJC ·

Lyk vir my die tegnologie op die nuwe karre is nie altyd ń goei ding nie. As dit nie vir vir die tegnologie was nie was daar niks om te blokkeer nie en kon sy haar motor aan die gang kry. Miskien moet motorvervaardigers hiervan kennis neem en ń paar veranderings aanbring.

Stokkies ·

As jy met oop venster bestuur en jy stop, is dit gewoontlik twee wat jy benader, die een ou sit jou kar af, hy draai letterlik die sleutel, en die ander ou sit met die mes teen jou ruit/arm/keel en gee bevele, so om dalk die sleutelgat aan die ANDER kant van die stuurwiel te maak sal ook help

Valie ·

Die kapers het beter toerusting as die SAPD. Vind die mense wat geld maak uit die toerusting. Stem saam laer tegnologie in motors bly die beste.

Mariana ·

So bly die tannie is okay, hoop sy sterk gou geestelik ook aan. Ek se dit al jare en ek se dit nou hier. Hoe meer sekuriteit, hoe meer wil die booswigte in. Hierdie skurke werk by of ken iemand wat by maatskappy werk wat sukiriteits stelsels ontwerp en insit. Hoe anders weet hulle om die goed te bypass of blokeer? Gaan soek die skelms by die maatskappye en die dinge sal stop. Dis soos met enige sindikaat, gaan soek eers die brein, dan gaan julle die puppet kry.

Gerrie Ferreira ·

Ad die kleinkinders nie so ongeduldig was nie sou hulle die kar beter kon volg en opspoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.