Man sê jammer oor moord op kleuter

Mortimer Saunders in die Wes-Kaapse hooggeregshof (28 Mei 2018). Foto: Henk Kruger/ANA

Die man wat die driejarige Courtney Pieters wreed in haar ouerhuis vermoor het, het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof die kleuter se ma om verskoning gevra.

Courtney se ma, Juanita Pieters, het Dinsdag in die getuiebank die hof vertel van die dag toe haar dogter as vermis aangemeld is, hoe hulle na haar gesoek het en hoe die dogtertjie se liggaam uiteindelik dae later in die Epping-nywerheidsgebied gevind is.

Mortimer Saunders, wat destyds ʼn kamer in die huis van Pieters en Courtney se pa, Aaron Fourie, gehuur het, het vroeër in die hof in ʼn beëdigde verklaring erken dat hy Courtney op 4 Mei 2017 in haar ouerhuis in Elsiesrivier miergif ingegee en toe verwurg het.

Nadat Saunders se regspan Dinsdag hul kruisondervraging van Pieters afgesluit het, het Saunders sy regsverteenwoordiger gevra om vir Pieters te sê hy is jammer oor wat hy gedoen het. Pieters het eers lank stilgebly voordat sy reguit vir Saunders gekyk het en gesê het: “Ek het Mortimer vergewe, maar ek sal nooit vergeet nie.”

Saunders se verdediging het Dinsdag die aanwesigheid van die miergif in Saunders se kamer verduidelik deur aan te voer dat Saunders alles in sy kamer gedoen het, insluitend gekook en geëet het. Pieters het egter hierop geantwoord: “Daar was nooit mierprobleme in die huis nie. Ons het net gesukkel met kokkerotte.”

Courtney Pieters.

Pieters het vroeër aan die hof gesê dat die polisie vir haar beeldmateriaal gewys het van Saunders wat haar dogtertjie se liggaam in die Epping-nywerheidsgebied stort. Sy het gelieg en gesê sy herken nie die man nie, omdat sy so geskok was om te sien wie die moordenaar is.

Sy het ook getuig dat Saunders ʼn slot aan sy kamerdeur gehad het, maar dat sy ʼn paar keer daar binne was wanneer sy elektrisiteit op die kragmeter moes laai of om sy wasgoed te doen. Op ʼn vraag hoekom sy sulke goed vir Saunders sou doen wanneer daar konflik tussen hulle was, het sy geantwoord: “Ons het nie van mekaar gehou nie, maar wanneer hy gevra het dat ek iets vir hom doen, het ek dit gedoen want hy het my betaal om dit te doen.”

Pieters het verder getuig dat Saunders gereeld met haar sewejarige seun en Courtney kontak gehad het. Op ʼn vraag of Courtney in Saunders se kamer ingegaan het, het Juanita geantwoord: “So ver ek weet het sy baie in sy kamer ingegaan, maar nooit alleen nie. Sy sou daar ingaan saam met vriende, niggies of selfs sy dogter wat gereeld by Courtney kom speel het.”

Saunders het onskuldig gepleit op aanklag van verkragting hoewel hy skuld erken het op aanklag van moord. Hy voer egter aan die moord was nie met voorbedagte rade nie. Die staat het egter dié skulderkenning verwerp en gesê die moord is wel met voorbedagte rade gepleeg.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JAMMER??? ·

Ja in SA mag sekere mense net om verskoning vra vir blatante haatspraak en rassisme, moordenaars mag net se sorry, rapists mag net se eks jammer ek sal nie weer nie .. maar NIE almal is so gelukkig nie . ander gaan tronk toe vir FB inskrywings … Hierdie man het met voorbedagte rade opgetree .JAMMER gaan nie help nie .. sluit toe en gooi die sleutel weg ..

Al ·

Hy wil seker sy eie bas red deur te hoop op ñ genadige vonnis.

Timo ·

Kan regtig nie verstaan hoekom die ma gelieg het oor die moordenaar op die beeldmateriaal nie. Dat sy kwasuis nie geweet het wie dit is nie. Wonder wat het alles daar aangegaan.

Ina ·

Jammer, maar dit is n jammer wat ek geensins glo nie. Hy het die mensie eers miergif gegee om te drink,haar onsedlik aangerand, haar verwurg en versmoor, haar ma het hom probeer beskerm? Hoekom, sy moet aangekla word van dwarsboming van die gereg.

Maraleze ·

Nie voorbedagte rade nie, maar hy het vir haar miergif ingegee???? Jammer meneer ek glo jou nie…..

Amanda ·

Moet iewers fout wees want ek sal so iemand nooit veergewe nie. Hoe kan sy hom vergewe

Daan ·

Hy is ‘n gewetenlose koelbloedige wrede MONSTER!!!! … Jammer doodstraf is weg gevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.