Man se liggaam gevind ná vloedwater kar meesleur

Leon Strydom. Foto: Facebook

Leon Strydom. Foto: Facebook

Leon Strydom (40), die man wat vermis geraak het nadat sy motor Donderdag deur vloedwater in die noorde van Pretoria meegesleur is, is Vrydagmiddag gevind.

Kapt. Riana van Aarde, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig Strydom se liggaam is omstreeks 12:00 tussen opdrifsels, sowat 1,5 km van die brug waar sy motor vroeër uit die water getrek is, gevind.

“Die soekgeselskap het bestaan uit polisieduikers, die honde-eenheid, nooddienswerkers en lede van die Pretoria-Noord-gemeenskapspolisiëringsforum,” het Van Aarde gesê. Van Aarde het al die rolspelers bedank wat hard gewerk het om Strydom op te spoor.

Strydom se familie, wat sedert Donderdag op die toneel was, het hom reeds uitgeken.

Leon Strydom se motor word uit die water getrek. Foto: EWN / Christa Eybers

Leon Strydom se motor word uit die water getrek. Foto: EWN / Christa Eybers

Maroela Media het vroeër berig Strydom se motor is Donderdagoggend terwyl hy op pad werk toe was, op die R101 by Honingnestkrans deur die Apiesrivier meegesleur ná swaar reënval sedert Woensdag.

Reddingswerkers kon die motor van die oewer af sien, maar dit was onduidelik of daar iemand in die motor was omdat dit onder die water was. Daar is later vasgestel daar kan nie rekenskap gegee word van die bestuurder nie. Reddingswerkers kon weens erge reën, sterk strome en swak sigbaarheid nie Donderdag by die motor uitkom nie en die herwinningsproses is tot Vrydagoggend uitgestel.

Die motor is Vrydag omstreeks 10:30 deur ʼn trekker uit die water gehaal. Daar was niemand in die motor nie. Soek- en reddingspanne het daarna begin om die oewers van die rivier te fynkam.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eliza-beth ·

Baie jammer dat dit so tragies moes iendig. Sterkte aand ie familie en vriende.

Daleen ·

Innige simpatie aan die familie.
Ek wonder net,hoe het hy uit die kar gekom? Was die deur oop of dalk die venster?

Luan ·

Met sulke sterk waters, sal alle vensters of uitgespoel word of uitgeslaan word deur takke en goeters wat in die water dryf. Sal nooit weet of hy in sy motor of buite sy motor verdrink het nie, maar dit maak seker nie saak nie. Die arme man.

Derek ·

Ai, dis so jammer…. Op pad werk toe.. My innige meegevoel aan sy gesin en naas bestaandes.. Jammer as ek verkeerd spel maar maroela wil he ek moet engels praat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.