Die liggaam van ʼn man is Woensdagaand in die see by Durban-Noordstrand in KwaZulu-Natal aangetref.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici en vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is omstreeks 21:00 na die strand ontbied nadat iemand die man se liggaam in die see sien dryf het.
“Lewensredders van die NSRI het die man se liggaam na die strand gebring, waarna hy deur paramedici dood verklaar is.”
Botha het gesê die man het moontlik verdrink en daar kan in dié stadium slegs bespiegel word hoe hy in die water beland het, maar die saak word wel deur die polisie ondersoek.