Die liggaam van ʼn man, vermoedelik in sy 30’s, is Maandag in die Vaalrivier naby die Ascot-on-Vaal-brug gevind.
“Paramedici en ʼn soek-en-reddingspan het Sondag reageer nadat ʼn man vermoedelik verdrink het,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Die span het dadelik ʼn soektog na die man van stapel gestuur, maar die soektog is later afgelas weens swak lig.”
Meiring het gesê die span het Maandagoggend vroeg die soektog hervat en die man se liggaam is gevind. “Die man het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.”
Dit is nie duidelik of die man van die brug afgespring of geval het nie. “Plaaslike owerhede stel ondersoek in,” het Meiring bygevoeg.