Man se lyk uit vlei gehaal

Argieffoto van Zeekoeivlei. Foto: Verskaf deur NSRI via www.zeekoevlei.co.za

Argieffoto van Zeekoeivlei. Foto: Verskaf deur NSRI via www.zeekoevlei.co.za

Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Strandfontein-bemanning het Sondagoggend die liggaam van ʼn man uit die Zeekoevlei naby Kaapstad gehaal.

Vaughn Seconds, die NSRI Strandfontein-stasiebevelvoerder, het in ʼn verklaring gesê die bemanning is omstreeks 10:15 na die vlei naby Grassy Park ontbied nadat ʼn klein boot aan die oostelike kant van die vlei omgeslaan het en die liggaam van ʼn man in die water opgemerk is.

NSRI-reddingswemmers, polisieduikers, duikers en paramedici van die provinsiale nooddienste en reddingsduikers van die Kaapstad brandweer- en reddingsdienste is ontplooi om na die liggaam te soek.

“Op die toneel het roeiers bevestig hulle het vroeër die oggend op die man se liggaam afgekom waar dit in ʼn reddingsbaadjie naby die omgeslaande boot gedryf het. Die roeiers het die liggaam na die oewer geneem,” het Seconds gesê. Die reddingsduikers het gehelp om die omgeslaande boot op die oewer te kry.

Volgens Seconds is die oorsaak van die voorval nog nie bekend nie en sal die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek doen. Die man se identiteit is nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.