ʼn Myningenieur (53) van Pretoria het al die pad van dié stad na Kaapstad fietsgery om mense aan te spoor om orgaanskenkers te word, omdat sy vrou (48) een van die duisende mense is wat ʼn nier nodig het.
En dié man het self net een nier. Braam Blom het Maandagoggend by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal aangekom nadat hy en sy dogter Bernadine (21) op 21 November by die Netcare Jakaranda-hospitaal vertrek het.
Blom se vrou, Belinda, vertel haar man het in 2012 een van sy niere aan haar geskenk. Maar twee jaar later het haar liggaam dié nier begin verwerp. Sy ontvang nou weer soos voor dié oorplanting drie keer ʼn week dialise en sy hoop op ʼn tweede oorplanting.
Sy was Maandag in Kaapstad om hom aan die einde van sy reis te verwelkom en het ook hier dialise ontvang. “Ek was baie lank depressief nadat my man se nier wat ek ontvang het, probleme gegee het. Omdat ʼn mens ʼn tweede kans op ʼn lewe kry en dan werk dit nie, maar nou probeer ek positief wees. Ek probeer my humorsin behou,” vertel sy.
Braam vertel hy het twee maande gelede besluit, nadat sy vrou weer eens in die hospitaal was, om iets positiefs te doen, so het die idee om “Ride for Hope” begin. “Dalk kan ek iets doen om die waglys korter te maak, al is dit nie net vir haar nie, maar ook vir ander mense. Dit het wonderlik verloop, ek het nie eens ʼn pap wiel gehad nie, nie een insident nie,” vertel hy.
Veral in die Karoo is hulle gul ontvang. Mense het ook ente saam met hom gery op hulle fietse. “Dit is absoluut frustrerend om so te wag, ʼn mens gaan op en af die hele tyd,” vertel hy.
Braam het 1 850 km ver gery, terwyl hulle dogter Bernadine gesorg het dat hy goed eet. Sy het ook die steunvoertuig bestuur. Hulle seun Barnard het die laaste ent saamgery. “Die eerste dag van die tog was baie moeiliker as die laaste een,” vertel hy.
Belinda sê sy het deur die jare gesukkel met hoë bloeddruk en uiteindelik het haar een nier glad nie funksioneer nie en die ander een net 4%. “Ek het nou drie niere en nie een werk nie,” sê sy.
Samantha Nicholls van die Orgaanskenkervereniging het gesê daar is sowat 8 000 mense in Suid-Afrika wat tans dialise ontvang en 1 300 mense is op die waglys om ʼn orgaan te kry.
Dit is gratis om ʼn orgaanskenker te word en ook uiteindelik organe en weefsel te skenk. Lees meer by https://www.odf.org.za/
- Elsabé Brits is ‘n vryskut-wetenskapjoernalis.
Ek is geregistreer as n orgaan skenker maar wil graag uitvind hoe ek te werk gaan om te toets of ek dalk vir Belinda of selfs iemand anders n gepaste skenker kan wees.
Groete
Baie dankie Braam vir wat jy gedoen het om bewusmaking te skep vir mense wat met nierversaking moet saamleef. My man het ook nierversaking en kry dialise, peritoniale dialise sodat hy met sy daaglikse werk kan voortgaan anders verval hy in ‘n totale depressie en sal hy sterf van moedeloosheid en nie noodwendig van nierversaking nie. Die komplikasies wat met nierversaking gepaard gaan is werklik sleg en net diegene wat daarmee saamleef sal dit verstaan. Daarom is dit belangrik om mense wat kàn skenk aan te moedig om te skenk.
Dankie Celia, ek verstaan waardeer jy gaan en wil net vir jou se sterkte!!!!
Ek hoop dat dit wat ons gedoen het n verskil gaan maak en ook aan julle!
Baie sterkte!!
Braam
My man ly ook aan nierversaking en is op peritoniale dialise en ook op die waglys vir ‘n nier. Baie dankie Braam vir die initiatief geneem om bewusmaking daarvan onder mense aan te moedig. Groete
Wow ongelooflik dankie vir die omgee !!!