Man sit lank ná ‘haatmoord’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man is Woensdag tydens ʼn hooggeregshofsitting, in Ceres se landdroshof, tot tronkstraf gevonnis vir die grumoord op ʼn gay man.

Regter Siraj Desai het Christo Oncke (30)tot 17 jaar tronkstraf gevonnis. Oncke is in Januarie skuldig bevind aan die moord op Dawid Olyne in Maart 2014. Olyne is vasgebind en aan die brand gesteek, terwyl hy nog gelewe het.

Staatsaanklaer, adv. Ntsoaki Mabilietse, het ter strafverswaring gesê die moord was uiters wreedaardig.

“Olyne is erg aangerand, gewurg, gemartel en toe aan die brand gesteek, terwyl hy nog gelewe het. Die hof het gelas dit was ʼn haatmisdaad. Die gay gemeenskap verdien om beskerm te word omdat dit nou al algemeen geword het vir lede van dié gemeenskap om geteiken te word,” het Mabilietse gesê.

Sy het die hof ook versoek om Oncke tot lewenslange tronkstraf te vonnis. Regter Desai het egter Woensdag van die voorgeskrewe minimumvonnis afgewyk. Volgens Desai het Oncke nie alleen die moord uitgevoer nie. Hy het voorgestel dat die saak nie gesluit word nie en dat diegene wat glo ook betrokke was, aan die pen ry.

Hy het bygevoeg Oncke se ondergemiddelde intellektuele vermoëns is ʼn versagtende faktor. Regter Desai het ook gesê hoewel hy ses vorige oortredings het, was dit net vir ‘klein’ misdade. Die regter het wel toegegee die moord voldoen aan al die eienskappe van ʼn haatmisdaad.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die vonnis verwelkom. Ntabazalila het gesê Oncke het tydens die verhoor volgehou hy is onskuldig.

“Hy het erken hy het Olyne geskop en geslaan, maar ontken dat hy hom vasgebind en aan die brand gesteek het,” het Ntabazalila gesê.” Oncke het aangevoer hy het in die pad gestap na ʼn plek waar dwelms gebruik word.

Olyne wou glo seks hê met Oncke. Oncke beweer Olyne het hom met ʼn klip gegooi toe hy seks weier. Hulle het toe in ʼn geveg betrokke geraak. Oncke sê toe hy daar weg is, was Olyne nog lewendig.

Regter Desai het gesê homofobie is ʼn probleem in die gemeenskap en het die Menseregtekommissie (MRK) en die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling gemaan om programme beskikbaar te stel om mense bewus te maak van die kwessies rondom geslag en homoseksualiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ouvrou ·

Straf haat misdade met die swaarste straf moontlik. Die volgende slagoffer kan jou broer, suster, kind, vriend of vriendin wees. Ek wonder wat sal gebeur as daar ‘n referendum gehou word om die doodstraf vir moord terug te bring? In hierdie land het misdadigers meer regte as die slagoffer. Waarom moet jou reg op lewe gerespekteer word as jy iemand se lewe geneem het?

jaco ·

Dit lyk asof reg en geregtigheid nog geskied as al die rolstoelers (slagoffer, moordenaar, SAPD, staatsaanklaer, regter ens) ALMAL nie wit is nie. Is die moordenaar wit, is die straf 100 maal erger. Is die slagoffer wit, is daar ‘n next to nothing vonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.