Man sit lank ná moordtog op bejaardes

Shaun Oosthuizen 41) [Foto met vergunning van Laevelder]

Die veroordeelde moordenaar Shaun Oosthuizen (38) sal altesame drie lewenslange vonnisse vir die moord op Hetta Potgieter (85), Barbara Esme Fenton (74) en Engela van Wyk (86) uitdien. Hy sal ook 55 jaar agter tralies deurbring vir roof met verswarende omstandighede.

Kapt. Dineo Sekgotodi, nasionale woordvoerder van die Valke, sê dié vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Oosthuizen het die moorde in Junie en Julie 2018 gepleeg.

Oosthuizen het Woensdag skuldig gepleit vir die moord op Potgieter en is Donderdag in die hooggeregshof in Mbombela tot lewenslank gevonnis. Hy is ook 15 jaar vir die roof opgelê en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te hanteer.

Potgieter se liggaam is in Julie 2018 in die badkamer van haar selfsorgeenheid in die Macadamia-versorgingsoord in Mbombela aangetref. Haar hande was vasgebind en daar was ʼn voorwerp om haar nek gebind. Oosthuizen het Potgieter aangerand, vasgebind en verwurg. Hy het haar verder van ’n bedrag van R10 000 beroof en van die toneel gevlug.

Hy is kort ná die moord in hegtenis geneem, maar op borgtog vrygelaat waarna hy sy moordtog in Alberton in Gauteng voortgesit het.

Oosthuizen het Fenton op 1 September 2018 in haar huis in Alberton verwurg en is volgens Sekgotodi direk ná die voorval deur die Valke vasgetrek.

“Dit was tydens dié ondersoek dat Oosthuizen ook met die moord op Van Wyk verbind is,” sê Sekgotodi.

Van Wyk is op 24 Junie 2018, skaars ’n maand voor die moord op Potgieter, by die Rus ’n Bietjie-ouetehuis in Springs beroof en vermoor.

African Reporter berig dat Van Wyk se liggaam langs haar bed gevind is.

“Daar was ’n lap in haar mond gestop en haar hande en voete was vasgebind.”

Oosthuizen se medepligtige, John du Plooy (30), is saam met hom vir die moord en roof op Van Wyk gevonnis.

Van Wyk se dogter, Engela Brand, het destyds aan African Reporter gesê dat haar ma veronderstel was om saam met hulle met vakansie te gaan, maar dat Van Wyk kort voordat hulle sou vertrek siek geword het.

Luidens dié berig het haar dood die familie, wat al die hofverrigtinge bygewoon het, geruk.

“Die saak is ná Oosthuizen se inhegtenisneming in September afgehandel en hy is tot lewenslank vir die moord op Van Wyk gevonnis asook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

“Hy is in Desember 2019 ook ’n lewenslange vonnis vir die moord op Fenton opgelê en 25 jaar vir roof,” sê Sekgotodi.

Alberton Record het berig dat Du Plooy ook vir dié moord lewenslank agter tralies sal sit en boonop 20 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, die Valke se provinsiale hoof in Mpumalanga, het die betrokke ondersoekspanne geloof vir hul werk om te verseker dat geregtigheid geskied.

“Ons waardeer die samewerking tussen die speurders en regbank om te verseker dat dié hartelose krimineel wat weerlose bejaardes geteister het, uit die samelewing verwyder is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Hoekom Shaun, hoekom!!

Hennie

Die staat is 100% skuldig aan die dood van alle slagoffers nadat hy borgtog gekry het! Swape wat regeer!

Blomme

Boewe moet meermale swaar gestraf word.

Duwweltjie

Sy eie mense wat hy so wreedaardig uitmoor. Hy moet baie siek wees en behoort permanent uit die samelewing verwyder te word.

Sarel

3 x Lewenslank vonnis – gelyklopend ? Beteken dit
1 x Lewenslank