’n 42-jarige man het homself aan die polisie oorgegee na ’n skietvoorval waartydens sy vrou gewond en drie lede van sy skoonfamilie doodgeskiet is.
Die man en sy vrou het glo omstreeks 15:00 Saterdag in ’n argument betrokke geraak toe hulle by haar familie in die eMzinoni-township buite Bethal in Mpumalanga gekuier het.
Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die situasie gewelddadig geword en het die verdagte ’n vuurwapen uitgeruk. “Hy het op sy vrou, skoonpa, swaer en skoonsuster losgebrand. Slegs sy vrou het die skietvoorval oorleef en is in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal gehaas.”
Die verdagte het homself hierna aan die polisie in Ermelo oorgegee en ook sy vuurwapen oorhandig. Hy sal binnekort in die hof verskyn op drie aanklagte van moord en ’n klag van poging tot moord.
“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte en sy vrou huweliksprobleme gehad het en dat dit moontlik die situasie aangevuur het.”
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Dis dalk beter om niks behalwe afkeuring te kenne te gee nie.
Net wapens uitgeruk en geskiet sonder om te dink aan nagevolge of miskien registreer die nagevolge nie by sekere mense nie.
Wat my stomslaan is WAAR kry elke jan rap en sy maat ‘n vuurwapen? Inal die kriminele berigte word misdadigers gevang met ongelisensieerde vuurwapens en HOED is doodstil!
Volgens hom is die saak nou opgelos. Totale gebrek aan selfbeheersing en ken net een “oplossing”: maak dood!
Blyk dat vuurwapens deesdae speelgoed is.