Man skiet glo rondloperhond in motorhuis

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Inwoners van Jeffreysbaai is met skok en afgryse gevul nadat ʼn plaaslike man verlede week glo ʼn rondloperhond in sy motorhuis ingesleep en doodgeskiet het.

Dié hond het glo die man se eie hond, ʼn Yorkshire-terriër, geteister omdat sy op hitte is. Die rondloperhond behoort moontlik aan ʼn inwoner van die omgewing.

ʼn Vrou verbonde aan die Jeffreysbaai-dierereddingskuiling het Maandag aan Maroela Media gesê dat die voorval Vrydag om 10:00 in Wavecrest plaasgevind het.

“Inwoners in die gebied het gesien hoe een van hul bure ʼn hond in sy motorhuis in sleep. Die deur het toegegaan, maar hulle kon steeds die hond hoor tjank,” sê die werker, wat nie haar naam genoem wil hê nie.

“Sekondes later het hulle ʼn skoot hoor afgaan en nog meer mense het uit hul huise gehardloop om te sien wat aangaan.”

Die plaaslike DBV het ook die voorval aan Maroela Media bevestig. Die hond is in die kop geskiet en is op die toneel dood.

Die dierereddingskuiling, die DBV en die polisie is na die toneel ontbied.

Die man het na bewering in sy motor weggery voordat die DBV en die polisie op die toneel aangekom het. Hy het egter later dieselfde dag die DBV in kennis gestel dat hulle die dooie hond kan gaan haal.

Volgens ooggetuies het die man glo erken dat hy die hond geskiet het. Hy het na bewering bygevoeg dat die hond herhaaldelik oor sy heining spring om sy eie hond te teister en dat die rondloperhond hom ook al gebyt het.

Die rondloper is vermoedelik van gemengde ras, maar is volgens inwoners in die gebied nie ʼn straathond nie.

“Die hond het altyd as vriendelik en versorg voorgekom, daarom vermoed ons hy het moontlik aan iemand behoort,” het die werker gesê.

Luyanda Renge, inspekteur by die plaaslike DBV, sê die DBV het die hond gaan haal en na ʼn veearts toe gevat.

“Die veearts het ʼn enkele koeël in die hond se kop gekry. Die nadoodse verslag sal na verwagting later vandeesweek afgehandel word,” sê hy.

Die DBV het reeds ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak, maar die klag moet nog bevestig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Toy ·

Hoekom die hond in die garage insleep, kon jy nie maar net die DBV gebel het om die hond te kom haal nie. Dis ‘n dier hy weet nie hy doen verkeerd nie, my hart is stukkend vir dier en mense moet asb seker maak hulle diere bly in die erf.

E ·

Bure in my omgewing is doof, hulle honde kan aande aaneen blaf, hulle roer nie ‘n vinger om die dier stil te maak nie. Hulle wag tot jy op die groep plaas, dan sal hulle miskien die dier stil maak. En meeste het meer as een hond. Honde is ‘n groot probleem in stedelike gebiede.

Harley Davidson ·

Jy mag nie ‘n vuurwapen vuur in ‘n beboude gebied sonder dat jou lewe in onmidelike gevaar is nie,dit opsig self is ‘n kriminele oortreding ,hy het die insident verkeerd hanteer .

Akhenatha ·

Dit is ook ‘n oortreding om jou hond nie binne jou erf te hou nie.

Janine ·

En tog wil al die tree huggers geen verantwoordelikheid vir hul rondloperdiere aanvaar nie.

Deon ·

Miskien was sy lewe in gevaar daar alleen in die garage saam met die hond

Jo-Anne ·

Gevoellose mens. Net n mens sonder siel sal so iets doen.

Janine ·

Of hy is net keelvol vir iemand se brak wat sy erf binnekom.

Peach ·

Jôh, maar was dit nou nodig om die natuur (honde op hitte) op so manier te probeer beheer….. vra namens alle diere liefhebbers :-(

Gerhard ·

Stem heeltemal saam met jou. Baie minder moeite om jou hond net te laat steriliseer as om oorlog te verklaar op die buurt se rondloperhonde.

Misky ·

As die hond so aggresief was soos hy beweer, hoe kon hy die hond sleep sonder dat hy hom weer gebyt het? Nee wat, jy maak stories op en moes anders hanteer het, sies!!!

Di ·

Kan ‘n mens so WREED wees? Goeie genade, daar is GEEN verskoning om ‘n dier net so koelbloedig dood te skiet nie. Sal eerder nie hier se wat ek van hierdie “man” dink nie. Voel jammer vir sy eie hond

Swerwer ·

Walglik! Hoe kan ‘n mens ‘n onskuldige dier doodskiet. As hy enige skade aangerig het deur iemand aan te val was dit heeltemal ‘n ander saak.

TO ·

Jou scum back nie werd om ‘n mens genoem te word wat ‘n onskuldige dier doodskiet. Verder wil ek ook sê hierdie mense wat diere het en nie na hulle kan kyk, ek hoop hierdie dier hou jou nag vir nag wakker. My diere is gesteriliseer, hulle gaan in GEEN straat want hulle kry kos en aandag by die huis.

Sêmanet ·

Ek is glad nie ‘n diereliefhebber nie. Maar ek sal hulle nooit seermaak of honger laat gaan nie. Hy kon mos maar net sy eie hond ook bietjie “afgekamp” het tot sy oor haar “hittetyd” is. Of vra rond wie se hond dit is en praat met die eienaar. Nou gaan hy in diep moeilikheid kom oor hy ‘n hond geskiet is, dis so goed soos om ‘n mens te skiet.

Skappie ·

Hoe kan ‘n mens net ‘n geweer uithaal en skiet. Dit is so wreed. Ons lewe regtig in ‘n baie deurmekaar land. Self honde wat lastig is, word doodgeskied. Wonder wat sal gebeur het as dit ‘n lastige persoon was? Sal hy ook net geskied het, om van hom ontslae te raak.

Leonne ·

Sy morele kompas is so vêr uit, dis n wonderwerk dat hy eintlik die pad na sy motorhuis kon vind

Johanna ·

Kan jy net dink hoe getraumatise is die ander inwoners van daai man se huis. Ek laat my nie vertel sy huismense het saam met hom gestem nie. Weet want ek was in soortgelyke situasie…… Psigopaat sou ek sê.
Sy omtrede is onmenslik wreed teenoor die hele buurt se mense en diere sowel as wreed teenoor sy eie huismense. Stuur hom Weskoppies toe vir 5 jaar sonder enige besoekers .

Pandora ·

Johanna, ek is seker jy is woedend, soos ek ook is, oor hierdie man se onbesonne daad, maar ongelukkig kan net ‘n sielkundige wat die man behandel het, hom klassifiseer in ‘n sekere abnormaliteitsgrens. En Weskoppies is nie net vir monsters nie – dis ‘n plek waar mense wat nie in die samelewing regkom nie, gehuisves word en sommige met die hoop om met behandeling en medikasie gerehabiliteer te word.

MT ·

Om te dink dat daar ge-argumenteer moet word om te bepaal of die skieter korrek opgetree hte, al dan nie.

Daar het so bitter min mooi van my eens-geliefde Suid-Afrika oorgebly, dat mens soms wonder of dit nog die moeite werd is om wetsgehoorsaam, eerlik, liefdevol, barmhartig, nederig te probeer wees in hierdie moderne Sodom & Gomorra.

Daar was ‘n tyd waar lewe – ALLE lewe – in Suid-Afrika beskerm en gekoester was. Dis egter verby.

JohanCzu ·

As sy hond gesteriliseer was sou die probleem in die eerste plek nie ontstaan het nie. Sluit hom toe.

jzjz05 ·

Ek praat nie die optreede van die man goed nie maar Die word beskryf as n rondlooper hond verder word gese dat hy aan iemand behoort en hy is glo goed versorg .Nou hoekom loop hy rond of mag honde deesdae vry loop en mense irreteer.Ek hoop die eienaar word ook aangetree oor hy nie sy hom oppas nie

Natasha ·

Dit maak my briesend! Ek is seker die man irriteer ook mense, maar niemand het nog hom in ‘n garage ingesleep en geskiet nie! Hulle moet sy hond ook van hom weg vat, want sy is beslis nie veilig by hom nie. Gaan hy sy vrou, kinders, kleinkinders of hul vriende ook skiet as hulle hom irriteer? Hy hoort nie ‘n vuurwapen te besit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.