Man skiet glo vrou, skoonma dood

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Die polisie in Mpumalanga is op soek na ʼn man wat glo sy vrou en skoonma Donderdag koelbloedig buite Nelspruit doodgeskiet het.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het by Kabokweni naby Nelspruit gebeur. Volgens Bhembe het die 44-jarige man en sy 39-jarige vrou weens huishoudelike probleme apart gewoon.

Die man het Donderdag na sy skoonouers se huis gegaan om vir sy vrou klere te neem wat sy nodig gehad het om kerk by te woon. Volgens Bhembe het die man probeer om met sy vrou te praat, maar het sy glo geweier. Die man het daarna ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en glo op sy vrou en haar 54-jarige ma losgebrand.

“Die slagoffers is na ʼn hospitaal gehaas, maar is met hul aankoms daar dood verklaar. Albei is verskeie kere geskiet.”

Volgens Bhembe het ʼn familielid van die man later ʼn vuurwapen, wat vermoedelik gebruik is om die moorde te pleeg, by die polisie ingehandig. Die man het die vuurwapen glo aan hom oorhandig voordat hy op die vlug geslaan het.

“Die polisie is op soek na Mhlolo Paul Ngomane, aangesien hulle glo hy sal die polisie in hul ondersoek kan bystaan,” het Bhembe gesê.

Enigiemand wat weet waar Ngomane homself mag bevind, word versoek om kapt. Shaka Nkosi by 083 525 4637 of Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

Klink of die koeël deur die kerk is vir hierdie vlugvoetige kêrel. Om te dink sy skoonma was maar tien jaar ouer as hy. En net 15 jaar ouer as haar dogter.

PJC ·

ń Vuurwapen in die hande van ń dwaas is ń gevaarlike ding.

Jo ·

Volksvreemde nuus. Ek lees nou maar ander nuusbronne vir regte nuus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.