Man skiet glo vrou, toe homself

Die motor van die vrou wat geskiet is. (Foto: Twitter)

ʼn Man het Dinsdagoggend ʼn vrou in Fourways in Johannesburg geskiet voordat hy homself kort daarna doodgeskiet het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Masondo het die man ʼn vrou omstreeks 07:00 by die aansluiting van Cedarlaan en Cedarweg naby die Fourways Life-hospitaal in die noorde van die stad geskiet waarna hy op die vlug geslaan het. Die polisie het die man agternagesit en later elders in Fourways voorgekeer. Dit is toe dat hy homself om die lewe gebring het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die hospitaal se paramedici is na die toneel buite die hospitaal ontbied waar die vrou in haar gesig geskiet is. Sy is op die toneel behandel en in ʼn kritieke toestand na die hospitaal se ongevalle-afdeling gehaas.

Volgens Meiring is ER24-paramedici kort daarna na ʼn toneel op Witkoppenweg in Fourways ontbied.

Die paramedici het omstreeks 08:15 by hul aankoms op die toneel die man, in sy 60’s, met ʼn skietwond aan sy kop aangetref. Die man is op die toneel dood verklaar.

Plaaslike owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

Dit was nie onmiddellik duidelik wat die man en vrou se verbintenis is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adri ·

Anoniem, jy is regtig baie ongevoelig…. dis dalk huislike geweld of probleme waarmee man nie kon cope nie, of pad geweld maak nie saak wat rede was nie … sou jy sulke grappe maak as dit familie van jou was…of daarvan gehou het as dit van jou familie of vriende was….en mense maak sulke ongevoelige grappe… ek wil nie nou soos n ou vrou klink of so iets nie maar dink aan naasbestaandes van oorledenis….
Jammer wil nie aanvallig of n fight uitlok nie maar regtig…

Tragies ·

Weet nie wat gaan aan in die land nie, man’s en vrouens het mal geword. Pa’s en ma’s mishandel kinders. Kinders vermoor mekaar, nee daars groot fout in ons samelewing.

willem Botha ·

Wat n wonderlike berig moes geskryf gewees het deur n professionele joernalis met al die feite en detail soos dit is sonder om iets te verdraai of die waarheid aan te pas regtig n meesterstuk ??

@Huh ·

Ek dink hy moes ‘n punt maak, en ‘n komma. Miskien sou sy “sarkastiese opmerking” dalk meer impak gehad het.

Sarkasme ·

Ag Willem Botha
Jy is alewig besig met snedige kommentaar. Niemand dwing jou om die berigte te lees nie. Vir wat skryf jy dan nie die berig self en gee vir ons die feite deur nie, siende dat jy alwetend is. Dan spaar jy ons van jou niksbeduidende kommentaar. Jy is ‘n regte ou suurknol wat my tyd mors met jou kommentaar……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.