Man skiet jong vrou, word doodgeskiet

Uzelda Slatter. Foto: Via Facebook

Die Koster-gemeenskap het Maandag met die skoknuus wakker geword van ʼn geliefde vrou en ma van die klein plaasgemeenskap wat by haar huis doodgeskiet is.

Maroela Media het verneem Uzelda Slatter (23) is glo om 02:00 deur Jan Koster (30) geskiet. Die twee was na bewering voorheen in ʼn verhouding en het saam ʼn tweejarige dogtertjie.

Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het Maandag aan Maroela Media bevestig die voorval het omstreeks 02:00 by ʼn huis in die dorp plaasgevind.

“Die 30-jarige man het na bewering by die huis opgedaag en sy 23-jarige meisie met ʼn vuurwapen in haar kop geskiet. ʼn Minderjarige tiener was by die huis en kon daarin slaag om die vuurwapen by die man af te neem, waarna die tiener die man glo in die kop geskiet het,” het Moleko gesê.

Slatter en Koster is op die toneel dood verklaar.

Die polisie ondersoek twee sake van moord. “Die tiener is nie in hegtenis geneem nie en ontvang behandeling vir skok en trauma in ʼn plaaslike hospitaal,” het sy gesê.

Moleko het gesê die rede en aanloop tot die skietery is onbekend en vorm deel van die polisie se ondersoek. Die polisie wou nie gerugte bevestig of Slatter glo ʼn interdik teen Koster gehad het nie.

Intussen stroom boodskappe van medelye op Slatter se Facebook-blad in. Sy het by Noordwes Korporasie (NWK) op Koster gewerk.

‎Edyth Eva Hugo‎ skryf: “Mens besef nie hoe vinnig die lewe verander nie. Saterdag lag ons nog saam en vandag besef ons dat ons nooit weer jou glimlag sal sien nie. Zellie rus sag jy was en sal vir altyd ʼn wonderlike mamma wees. Jy het geleef vir jou princess. Sterkte aan die Familie en Vriende. Jy leef voort in jou pragtige dogter.”

Valeska Fourie Van Wyk skryf: “Ai Zellie. Wat ʼn aaklige manier om wakker te word met hierdie devastating nuus. Ek sal jou altyd onthou vir jou innige liefde wat jy so graag uitgedeel het. Mag Jesus en sy engele jou ontvang by die hemelpoorte. Baie sterkte aan Ouma Lettie Slatter, pa Patrick en al ons ander hartsmense. Baie liefde vir julle almal.”

“My hart is stukkend. Sy was ʼn sonskyn in die donker lewe van ons. En ons sal haar baie mis,” het ʼn familielid aan Maroela Media gesê.

Jan Koster en Uzelda Slater. Foto: Via Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.