Man skiet meisie, homself met haelgeweer

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn 31-jarige man het glo Woensdagmiddag sy 28-jarige vriendin en homself in KwaZulu-Natal met ʼn haelgeweer doodgeskiet, kort nadat hy hul driejarige kind uit die kamer gestuur het.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die vriendin, Busisiwe Nqayi (28), het haar vriend met wie sy in ʼn verhouding was, Lindokuhle Shange (31), by sy familiehuis in die Diphini-omgewing in Fredville, Inchanga, gaan besoek.

“Die man het na bewering die paartjie se driejarige kind uit die kamer gestuur en die kind opdrag gegee om ʼn pen en papier in ʼn ander kamer te gaan soek sodat hy sy lewensverhaal kan neerskryf,” het Mbhele gesê.

Die kind is uit die kamer om die pen en papier te gaan kry. “Die kind het aan familielede gesê wat die opdrag van die pa is en wat hy beplan, waarna hulle onraad vermoed het. Die familielede was op pad na Shange se kamer toe hulle geweerskote hoor.”

Toe die familielede in die kamer kom het hulle Nqayi met beserings aan haar maag en geslagsdele aangetref. Shange het ʼn kopwond gehad.

Nqayi is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas en is by haar aankoms dood verklaar. Shange is op die toneel dood.

Die polisie het beslag gelê op ʼn haelgeweer.

“Dit is nog nie duidelik wat aanleiding tot die voorval gegee het nie en dit sal deel vorm van die polisie se ondersoek,” het Mbhele bygevoeg.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik 2 ·

kan sommer n afleiding maak wat aanleiding gegee het tot die moord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.