Man skiet PTA-polisieman, homself

Paramedici behandel die verdagte nadat hy homself in die Moloto-pad in die kop geskiet het. Foto's: Advance Paramedic Assists / Facebook

Paramedici behandel die verdagte nadat hy homself in die Moloto-pad in die kop geskiet het. Foto’s: Advance Paramedic Assists / Facebook

Adjudant-offisier Ben Strydom, ʼn polisiespeurder van die noorde van Pretoria, is Donderdag doodgeskiet toe hy ʼn man wat vir bedrog ondersoek word, in hegtenis wou neem.

Strydom (47) het as speurder by die Sinoville-polisiestasie gewerk. Mirna Von Benecke, woordvoerder van die polisiestasie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 10:00 by die verdagte se huis in Montanapark plaasgevind.molotopad4

“Verskeie sake van bedrog word teen die man ondersoek. Twee beamptes, waaronder Strydom, het by sy huis opgedaag om hom na die polisiestasie te neem,” het Von Benecke gesê.

Na wat verneem word, het daar ʼn bakleiery uitgebreek waarna Strydom glo noodlottig in sy kop gewond is. Hy is op die toneel dood. Die verdagte het ook na Strydom se kollega geskiet, waarna hy in sy voertuig gespring en weggejaag het.molotopad3

Die ander beampte is nie beseer nie. Die beampte het hulp ontbied en die Sinoville-polisie het die verdagte sowat 15 minute later op die Moloto-pad aangekeer.

“Die man het van die pad afgetrek, die geweer op homself gerig en probeer selfmoord pleeg. Hy het homself vermoedelik in die kop geskiet. Hy is in ʼn kritieke toestand in Montana-hospitaal onder polisiebewaking.”

Von Benecke het gesê buiten die sake van bedrog, gaan die verdagte nou ook van moord en poging tot moord aangekla word.

Sy het Strydom as ʼn baie goeie speurder beskryf en gesê sy dood is ʼn groot skok en verlies vir die polisie.

Die verdagte se naam mag nog nie bekend gemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.