Man skiet vrou by kerkdiens dood

(Argieffoto ter illustrasie: Kai Sun/Unsplash)

Die polisie in Thohoyandou in Limpopo is op soek na ʼn man wat glo verantwoordelik is vir die skietdood van sy vrou tydens ʼn kerkdiens vroeg Saterdagaand.

Die vrou was omstreeks 18:00 by die diens in die Makonde Shadani-nedersetting.

“Die verdagte het glo die perseel binnegegaan terwyl die gemeente met aanbidding besig was en het verskeie skote op die slagoffer afgevuur,” sê kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die 45-jarige vrou het op die toneel gesterf.

Die verdagte, glo haar 50-jarige man, het ná die skietery in ʼn silwergrys Toyota Corolla van die toneel gevlug. “Hoewel die motief vir die gruwelike daad nog onbekend is, kan gesinsgeweld nie buite rekening gelaat word nie,” sê Ledwaba.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof, het die voorval ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op die polisie gedoen om die aanvaller so gou moontlik agter tralies te kry.

Enigiemand met inligting oor die skietery kan die ondersoekbeampte, sers. Mashamba Mbangiseni, by 079 424 3573 bel. Inligting kan ook by die naaste polisiestasie aangemeld word, op die MySAPS-app of by die Stop Misdaadnommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.